GEORGE-NUUS - Drie skollies het heelwat meer gekry as waarvoor hulle gereken het toe hulle die 57-jarige mnr. George van Rensburg van Eden Sanitation probeer beroof het.
Die voorval het omstreeks 06:30 verlede Woensdag plaasgevind.
Van Rensburg tel elke oggend sy werkers op ‘n vasgestelde plek in Conville op. "Ek was ‘n bietjie vroeg en het in my bakkie sit en wag toe drie knape hier by my verby stap," vertel Van Rensburg wat met ‘n groot glimlag net sy kop skud.
Die drie mans het egter omgedraai en sy bakkie se deur oopgepluk terwyl hulle op sy geld en selfoon aandring. "Ek het nie, en julle gaan ook nie kry nie," het Van Rensburg sy hand oor sy selfoon, wat in sy hemp se sak was, gesit. Hulle het Van Rensburg toe uit die bakkie getrek en toegetakel. "Ek het gesien die regterkantse een haal ‘n byl uit en het probeer keer, maar hy het my ‘n hou teen die kop met die stomp kant gegee."
Die aanvaller het toe die byl omgeswaai en met die skerp kant na Van Rensburg gemik. "Hier’s groter moeilikheid as wat ek besef het," het Van Rensburg gedink terwyl hy die byl probeer afvat, maar sy hand seergemaak soos die skollie teruggepluk het.
Toe hy egter ‘n derde keer die byl na hom slinger, het Van Rensburg hom tussen die bene geskop. "Toe hy op sy knieë afsak het ek die byl by hom gegryp en dit agterin die bakkie gegooi."
Teen hierdie tyd het die skollie aan die linkerkant ‘n lang mes te voorskyn gebring terwyl die een in die middel nog heeltyd vir Van Rensburg met houe peper. Van Rensburg kon nie vir almal gelyk koes nie en een vuishou het sy bril gebreek.
Van Rensburg skop toe die messwaaier ook en toe dié inmekaar sak, vat hy sy mes af en gooi dit ook agterin die bakkie.
"Die byl-ou kom toe net mooi orent op sy knieë en hy byt my aan die hand," beduie Van Rensburg na die verband om sy hand wat toe sy linkerhand los kry om die byter een mokerhou in sy gesig te gee sodat dié hom toe laat los. "Ek het toe na my werkers begin skree en met my elmboog op die hoeter gedruk, want die drie het my steeds teen die bakkie vasgepen gehad."
Sy werkers en vier ander mans het toe aangehardloop gekom, wat die skollies op die vlug laat slaan het. Een van sy werkers se vrou het haar arms om hom geslaan. "Het Meneer seergekry?" wou sy geskok weet.
By Conville Polisiestasie het hy die wapens op die toonbank neergesit. ‘n Onbekende man wat reeds besig was om ‘n klag te lê, sê toe dit is dieselfde wapens waarmee hy ook 20 minute vroeër beroof is. Nog ‘n dame het ingestap gekom en die wapens een kyk gegee en gesê sy weet aan wie dit behoort, omdat dié aanvaller glo vroeër daarmee sit en speel het. Geen arrestasies is tot dusver in verband met die voorval gemaak nie.
"My grootste bekommernis is dat daar drie ouens rondloop wat ander mense se lewens gaan vernietig," peins Van Rensburg.
Enige persoon met inligting kan sers. Graham du Plessis by 044 803 3301 kontak.
Artikel: Anoeschka von Meck