GEORGE NUUS - Die persoon wat elf dae gelede op 'n inwoner van Blanco geskiet het, word steeds deur die polisie gesoek.
Wesley Booysen (20) is in die vroeë oggendure van Sondag 4 Februarie in sy linkerskouer deur 'n koeël getref onderwyl hy en 'n paar vriende te voet op pad huis toe was.
Die voorval het in Malgassingel plaasgevind, in die omgewing van Laerskool Kretzenshoop en Blanco-plakkerskamp.
Volgens Romano Baartman, 'n goeie vriend van Booysen, het hulle by 'n familielid gekuier en was op pad terug na hulle huis in Crowleystraat, toe 'n motor voor hulle in die pad stop.
"Die bestuurder het die venster afgedraai en ek het met hom gesels. Op 'n stadium het hy terug geleun en 'n man aan die passasierskant het twee skote deur die oop venster geskiet," het Baartman gesê.
Die eerste skoot het Booysen, wat net agter hom gestaan het, getref. Die tweede skoot was mis.
"My ore het gesuis van die klapgeluid, ons het baie groot geskrik," het Baartman gesê.
Booysen het in 'n stegie afgehardloop en op 'n plek inmekaargesak.
Sy vriende het hom daar te hulp gesnel.
Volgens Booysen was daar drie mans in die motor. Die groep vriende ken twee van die mans, die bestuurder en 'n tweede passasier wat agter gesit het. Hulle ken egter nie die skieter nie.
Die slagoffer, Wesley Booysen, het in 'n stegie afgehardloop en hier inmekaargesak. Charonique Williams is een van vele ooggetuies wat daardie oggend op die toneel was.
Charonique Williams, 'n vriendin van die groep, was enkele meters van die toneel toe die voorval plaasgevind het.
"Ons het gesien hoe praat hulle met die ouens in die kar en ons het die skote gehoor," het sy gesê. Dit was baie onverwags."
Volgens Williams spruit die voorval moontlik uit 'n vorige onderonsie waarby van die vriende betrokke was.
"'n Oom wat naby Romano en Tiaan (haar kêrel) woon het vroeër die aand vanuit sy huis na hulle geskiet. Dit kom al 'n lang pad aan. Die oom raak kwaad en dan begin hy skel," het Williams gesê.
Die bestuurder van die voertuig waaruit die skote geskiet is, is glo dié oom se seun.
Kyk 'n video hieronder.
Charonique Williams wys waar die motor in Malgassingel parkeer was. Foto's: Michelle Pienaar
Volgens Williams is beide die bestuurder van die motor en die agterste passasier reeds vry op borgtog, maar word die skieter nog gesoek.
Gerugte doen die ronde dat die skieter van elders is, en moontlik 'n voormalige polisiebeampte is.
Navrae in die verband is aan die polisie gestuur, maar geen antwoord is teen druktyd ontvang nie.
ARTIKEL: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'