GEORGE NUUS - Lede van Paul Hoffman se musiekgroep Sing! bring gedurende September musiek en vermaak na bejaardes by verskeie oorde in George.
Die groep het Woensdag 26 Augustus by Huis JJ Watson opgetree en die inwoners met hul musiek groot plesier verskaf.
Sommige het hul arms saam met die musiek beweeg, ander het saggies saamgesing, terwyl ander net geluister het en deur die musiek na 'n ander plek weggevoer is.
"Baie mense kan nie na konserte kom nie, daarom neem ons die konserte na hulle," sê Hoffman.
"Dit is 'n diens aan die gemeenskap. Soms begin die ouer mense huil wanneer hulle 'n liedjie hoor wat hulle aan iets herinner, of bloot omdat dit vir hulle mooi is."
Sing! se uitreikprogram vir die res van die maand: 9 September by Groenkloof; 16 September by Genevafontein en op 24 September, Erfenisdag, tree hulle by die Tolhuis op.
Debbie Jurgens (regs) kuier week-liks by Sophie Swanepoel. Jurgens, 'n nuwe intrekker van George wat tans op soek is na werk, gebruik haar los dae vir gemeenskaps-diens. "Dit gee my vreugde," het sy gesê.
Die musiekgroep Sing! en inwoners: Voor is Julie McFadden (pianis en soprano), Jaconett Brink (kitaarspeler en alto) en Mien du Toit. Agter: Paul Hoffman (bas), Alwyn van Rensburg (tenoor), Beatrice Esterhuysen, Ampie Vorster, hoof van die tehuis, Hennie Coetzee, en Jack du Plessis. Foto's: Michelle Pienaar
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’