GEORGE NUUS - Inwoners wat moes wag vir hul salaris of toelaag tot Maandag 30 Maart alvorens hulle inkopies kon doen, het gesorg vir 'n elle lange ry voor Shoprite se deure in die middedorp.
Die wagtydperk was sowat drie tot vier ure. Zandile Mbanguta, Endinako Cola (5) en haar ma, Anoxolo Cola was teen 12:00 Maandagmiddag verby die halfpadmerk, en hulle het reeds van 09:00 in die ry gestaan.
Henry en Evelyn Leukes van Rosedale was merkbaar verlig toe hulle die ingang nader. "Dit was 'n lang wag," het hulle gesê.
Diegene wat die voorste punt bereik het, is met handreiniger gespuit. Alhoewel 'n beampte voortdurend klante aan die persoonlike spasie van 1,5 m herinner het, was dit haas onmoontlik om die reël onder die omstandighede uit te voer.
Die ry van etlike meters het om die ganse parkeerterrein gekrul. Een van die klante wou slegs haar DStv-lisensie betaal.
Henry en Evelyn Leukes van Pacaltsdorp was Maandagmiddag onder die talle inkopiegangers voor Shoprite se deur. Met 'n wagtydperk van tot vier ure moes mense maar geduldig wees voor hulle hul koskaste kon volmaak.
Jo-Anne Jacobs van Pacaltsdorp wag geduldig met haar kleinkinders, Nodene Jacobs (2) en Winston Jacobs (1). Heel agter in die parkeerarea is die punt van die lang ry afwagtende kopers te sien.
'n Beampte probeer haar bes om inkopiegangers voor Shoprite te herinner aan die 1,5 m persoonlike ruimte. Henry Leukes (voor, regs) is uiteindelik aan die voorpunt van die tou. Foto's: Michelle Pienaar
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'