GEORGE NUUS - Die bekende Shéri Brynard, Downsindroom-vrou wat merkwaardige mylpale in haar lewe bereik het, is op Vrydagaand, 3 November in George om as spreker op te tree by 'n geldinsamelingsgeleentheid ten bate van 'n talentvolle muurbalspeler, Alouise Campher.
Alouise, 'n gr. 10-leerder van Hoërskool Outeniqua, is gekies om in Desember die SA skolemuurbalspan in Maleisië te gaan verteenwoordig. Haar ma, Laurette, sê hulle wil graag vir haar die geleentheid gee om te gaan, maar die kostes is hoog. "Die koste van R36 000 sluit nie die vlugte tussen George en Johannesburg in nie, en geen middag- en aandetes is ingesluit nie."
Alouise is, soos Shéri, 'n taai meisie wat haar nie laat onderkry nie. Sy het vanaf 2007 chemoterapie gekry, maar nadat dit drie keer onsuksesvol was, is besluit om 'n beenmurgoorplanting te doen. Net daarna het sy septisemie opgedoen wat veroorsaak het dat sy nog langer siek was.
Die professor wat haar behandel het, het gesê dat Alouise eers twee jaar na die beenmurgoorplanting dieselfde in haar sport sal wees as wat sy voorheen was en dat haar groei vir vier jaar belemmer sou word.
Ná die volledige herstelperiode van twee jaar om was, was daar nie keer aan haar nie. Sy is reeds as 'n onder 14 in die SA skolespan opgeneem, speel nou onder 16 en beklee die tweede posisie in die SA skolespan in haar ouderdomsgroep.
"As gevolg van alles wat sy al van sesjarige ouderdom af deurgemaak het, leef sy elke dag voluit. In sport en akademies presteer sy uitstekend en daarom wil ons die geleenthede waarvoor sy so hard werk vir haar gee," sê haar ma, Laurette.
Sy speel eerstespanmuurbal by Outeniqua en speel ook netbal vir die dorp asook aksienetbal. Alouise beklee ook die nommer een plek in haar graad. "Eintlik is sy net 'n klein wonderwerkie en in daardie klein lyfie het sy baie wilskrag om altyd haar beste te gee in wat sy aanpak," sê haar ma.
Alouise Campher saam met die wêreld se nommer een muurbalspeler, Carim Gawad van Egipte tydens 'n besoek van hom aan George. Alouise se sussie, Andrea staan by hulle.
Shéri Brynard
Georgiete word genooi om na die inspirerende Brynard te kom luister. Sy het in haar bykans 35 jaar merkwaardige mylpale bereik ten spyte van die feit dat sy as baba met Trisomie-21-Downsindroom gediagnoseer is. Sy is die enigste persoon met Downsindroom in die wêreld wat 'n tersiêre diploma het.
Sy is 'n ambassadeur vir alle Downsindroom-mense en het al by meer as 400 konferensies en ander geleenthede opgetree. Sy werk voltyds as 'n assistent by die Lettie Fouche Skool vir kinders met gestremdhede en het pas 'n boek uitgegee, Shéri - nes ek is. Hierin vertel sy hoe die liefde en aanvaarding van diegene naaste aan haar, veral haar ma, Susette, haar gevorm het. Sy deel die opwindende avonture op haar pad, die seerkry, vrees, en verliese (die grootste hiervan die dood van haar pa, Jerry), asook die werklikhede waarmee sy as 'n volwassene met Downsindroom gekonfronteer word. Dan gesels haar ma oor 'n lewe in die skaduwee van 'n kind met Downsindroom.
Sy deel openhartig haar geloofstryd toe sy gehoor het haar kind het Downsindroom en haar en haar dogter se reis die onbekende in.
Die aand begin om 18:30 vir 19:00 in die saal van Laerskool Outeniqua. Kaartjies kos R120 en is beskikbaar by Laurette Campher by 083 700 2735 of l-campher@hotmail.com.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'