Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die ongerepte, inheemse woud en bos waardeur die ou geskiedkundige Sewepassepad tussen George en Wilderness krul, word deesdae gereeld deur okkerjane sonder 'n greintjie gevoel vir die natuur bevuil.
Ongeërgde morsjorse stort rommel langs die pad deur bloot by die eerste beskikbare stukkie skouer af te trek en hulle sakke en vragte gemors in die pragtige omgewing tussen inheemse plantegroei en dierelewe te smyt.
En behalwe om oortreders te beboet, blyk daar bitter min te wees wat mens kan doen om dit te verhoed.
'n Plaaslike natuurliefhebber wat alles behalwe 'n okkerjaan is, die kunskenner Matthys Strydom, ry gereeld deur die pas en het die rommelstorting in dié erfenisgebied onder George Herald se aandag gebring.
Op heter daad betrap
Strydom, van Strydom-galery faam en die skrywer van Stories teen my Muur, het in Desember op 'n 'bakkiebouer' afgekom wat sopas afvalmatte en ander vullis gestort het.
Die skuldige het eers gesê hy het 'n pap wiel, maar toe Strydom om die voertuig stap en geen pap wiel sien nie, maar slegs 'n 'vars' berg gemors, het die man erken hy het dit daar gegooi.
Hy het plegtig belowe om dit nooit weer te doen nie, maar geen poging aangewend om die vullis op te tel voor hy die hasepad gekies het nie.
Hierdie hoop bouafval lê al so lank langs die pad dat die gras al daaroor groei.
Strydom het die registrasienommer van die voertuig afgeskryf en die eienaar se kontakbesonder-hede en adres opgespoor.
George Herald het die eienaar van die bakkie gekontak, maar hy het hewig ontken dat dit hy was wat die bakkie bestuur het en gesê dit mag dalk een van sy werknemers wees.
"Ek sal hulle aanspreek en waarsku!" het die man gesê.
Die man se besonderhede is aan die George-munisipaliteit se omgewingsafdeling gegee en hulle het belowe om werk daarvan te maak. Strydom is bereid om 'n beëdigde verklaring af te lê, maar het ongelukkig nie foto's van die omgewingssondaar geneem nie.
Meld rommelstorting aan
Direkteur van gemeenskapsdienste, Walter Hendricks, sê die George-munisipaliteit is dankbaar as mense onwettige rommelstorting rapporteer omdat dit dan makliker is om te vervolg.
"[Ons] gebruik meganismes soos inligtingsbros-jures, sosiale media, kennisgewings en radiopraatjies om mense bewus te maak dat rommel slegs by die munisipale stortingstereine gestort mag word, sowel as die nommers waar onwettige storting aangemeld kan word.
Matthys Strydom wys waar 'n morsjors sy vrag vullis gestort het. Foto's: Ilse Schoonraad
"Indien mense gewillig is om 'n beëdigde verklaring af te lê, en in die munisipale hof as getuie op te tree (indien die aangeklaagde besluit om eerder in die hof te verskyn), kan ons so 'n klag opvolg en 'n boete uitreik indien die oortreder opgespoor kan word.
"'n Voertuiglisensienommer help baie. 'n Foto is nie nodig nie, maar dit sal definitief die saak teen die beweerde oortreder versterk."
Die munisipaliteit het onderneem om die rommel in die Sewepassepad te verwyder.
Volgens Hendricks is daar minder probleme met onwettige stortings op die pad as ander plekke in die munisipale gebied, maar skoonmaakspanne maak gereeld tot by die Nelson Mandela Universiteit skoon en reageer op individuele aanmeldings ná daardie punt soos wat dit gerapporteer word.
Hy sê hulle waardeer dit as die publiek help uitkyk vir rommelstortings in afgeleë plekke en dit aanmeld.
Net 100 m na die bordjie wat rommelstorting verbied - waar die voertuig staan - is 'n hoop afval gestort.
'n Bekende probleemarea is die natuurskoon langs die Montagupas oor die Outeniquaberg waar rommel dikwels onder die brug gestort word.
Om onwettige stortings aan te meld, skakel 044 802 2900. Indien u kan help om iemand te vervolg, skakel 044 801 6350.
George Herald het Woensdagoggend (24 Februarie) vir die George-munisipaliteit se span van omgewingsake gaan wys waar die rommel gestort is en die gemors is opgeruim en na die George-stortingsterrein geneem. Onderweg na die storting langs die Sewepasse pad het hulle gesien daar is intussen op nog twee plekke onwettig rommel gestort. Die publiek word gevra om asb hulle oë oop te hou vir die sondebokke en dit onmiddellik by die bostaande nommers aan te meld. Indien moontlik, neem asb foto’s van die storting asook van die voertuie se registrasienommers.
Kyk 'n video hieronder.
ARTIKEL, FOTO'S & VIDEO: ILSE SCHOONRAAD, EDITOR-AT-LARGE
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'