GEORGE NUUS - Hannes (91) en Bes (89) van Heerden van die Bergville-aftreeoord het 'n groot mylpaal bereik wat nie baie mense beskore is nie. Die twee was op 9 April 70 jaar getroud.
Hulle het mekaar deur gemeenskaplike vriende ontmoet drie jaar voor hulle in 1949 in Johannesburg getroud is. Dit was liefde met die eerste oogopslag. Hannes het toe op die myne gewerk en Bes ('n nooi Lombaard) by die munisipaliteit.
Daar is 'n groot troue by die Mayfair NG kerk gehou en ná die onthaal is die twee jong verliefdes per trein na Zambië toe waar hulle vir jare gewoon het voor hulle na Suid-Afrika teruggekeer het.
Geduld, wedersydse respek en liefde is die egpaar se resep vir 'n huwelik wat soveel jare deurstaan het. Die twee is dankbaar dat hulle op so 'n hoë ouderdom nog saam kan wees en daar kan wees vir mekaar.
Die Van Heerdens het vier kinders (Johan van Heerden, Maryna de Vries, Estelle Swartz en Dawid van Heerden), 17 kleinkinders en 14 agterkleinkinders.
Die egpaar op hul troudag.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'