Update
TUINROETE NUUS - Lukas du Preez (66) wie se gebaar van liefde aan sy vrou, Marinda (64), met sy spelende trekklavier die verbeeldings plaaslik en internasionaal aangegryp het, se strelende musiek is nou stil. Marinda is Saterdagoggend, 14 Augustus, in die Life Bay View-hospitaal in Mosselbaai oorlede weens Covid-19-komplikasies.
Mossel Bay Advertiser het op 21 Julie 'n video van Du Preez, 'n arbeidsadvokaat wat in George woon, op sosiale media geplaas waar hy vroegoggend trekklavier buite die hospitaal se Covid-19-saal speel en dit het soos 'n veldbrand tot in die buiteland versprei.
Hy was elke tweede dag getrou op sy pos om sy trekklavier te speel.
LEES MEER: Hospital serenade viewed almost 200 000 times
Nuus van Marinda se dood, het soos haar man se "serenade vir die siekes", vinnig versprei en groot reaksie uitgelok. Medelye van onbekendes, aangeraak nie net deur Du Preez se passie vir sy vrou nie, maar ook deur sy nostalgiese musiek, het van oraloor ingestroom.
"Covid is 'n verskriklike siekte. Ek weet nie hoekom dit haar so erg geaffekteer het nie. Teen die einde het sy baie swaargekry. Haar longe het seergekry en haar hart het net stadiger en stadiger begin klop," het Du Preez gesê.
By navraag het Du Preez na Marinda verwys as "in alle opsigte die beste mens" wat hy en hulle drie kinders ooit geken het.
In lewe, vertel Du Preez, was Marinda se geloof onwrikbaar en sy het alles vir haar gesin en medemens gegee. "Ons het oor die 50 jaar wat ek en sy mekaar geken het, 'n fantastiese geseënde lewe saam gehad."
Hy beskryf hulle gesin, wat baie dinge saamgedoen het, as 'n besondere hegte gesin.
Volgens Du Preez was Marinda baie sportief en het sy uitgeblink as maratonatleet wat meer as 60 maratons op haar kerfstok gehad het.
Saam het die egpaar 10 Comrades-maratons aangepak en ook deelgeneem aan beide die New York- en Londen-maratons, waar Marinda Suid-Afrika al as veteraanatleet verteenwoordig het.
"Die trekklavierspelery was maar 'n manier om te kommunikeer, terwyl sy my nog kon hoor. Obviously is dit nou verby. Dankie vir die belangstelling," het Du Preez Dinsdag gesê.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'