Die Munisipaliteit se MIV-subkomitee het ‘n bewusmakingsveldtog geloods in samewerking met die SAPD en die Departemente van Gesondheid en Gemeenskapsveiligheid. Hul hoofdoel is om sekswerkers in te lig oor MIV/Vigs en hulle te verwys na instansies wat kan help indien hulle bystand nodig het.
Informele gesprekke oor veilige seks en persoonlike beskerming is gehou om seks-werkers te herinner dat hulle verantwoordelik is vir hulle eie gesondheid. Die sekswerkers is ook aangemoedig om hulself gereeld vir MIV en geslagsiektes te laat toets.
Skokkende feite
Van die meisies wat as sekswerkers werk, is so jonk as 14 jaar. Baie van hulle sien sekswerk as die "enigste opsie" vir ‘n toekoms en word dikwels deur ouer vriendinne beïnvloed wat reeds aan die leefstyl gewoond is.
Volgens die vrywillige werkers wat die voetwerk vir die veldtog doen, kom nie almal uit gebroke huise nie.
Een van die gevalle wat die vrywillige werkers veral geraak het, is ‘n 19-jarige swanger meisie wat al telkemale met die gereg gebots het. Die pa van haar ongebore kind is ook ‘n tiener en hulle leef albei op straat.
Artikel en foto's: Michelle Pienaar
.jpg)
Die vrywilligers wys die pamflette, kondome ens. wat hulle saamgebring het om vir die sekswerkers te gee.