GEORGE NUUS - Twee sakeleiers van George, wat die inhuldiging van pres. Cyril Ramaphosa op Loftus Versveld in Pretoria bygewoon het, het daarna positief reageer oor ekonomiese vooruitsigte vir die land.
Keith Sharp het die George-besigheidskamer verteenwoordig en dr. Willie Cilliers, die AHi Wes-Kaap.
Sharp het gesê dit was 'n baie indrukwekkende geleentheid. Veral die optrede van die weermag was indrukwekkend.
In die geheel gesien was daar 'n goeie atmosfeer. "Dit was goed gereël en pres. Ramaphosa se toespraak het mens hoop gegee. Dit het die indruk gelaat daar kan beter effektiwiteit in die regering wees. Dit kan weer tot beter ekonomiese geleenthede lei."
Volgens Sharp het die geleentheid ook bevestig dat daar baie geleenthede in Suid-Afrika is wat benut moet word.
Die geleentheid het ook gehelp met nasiebou. "Ek het 'n gevoel van eenheid onder alle mense beleef."
Hy het gesê daar moet opgetree word om die eenheid verder te bou. "My indruk is dat pres. Ramaphosa wil eenheid in die land bevorder."
Sharp is nie spyt dat hy dit bygewoon het nie. "Dit het my trots gemaak as Suid-Afrikaner."
Cilliers het gesê as landsburger en sakeleier het die geleentheid hom weer gehoop gegee vir Suid-Afrika. "Dit was 'n voorreg om dit kon bywoon."
Onder die genooide gaste was daar respek vir mekaar en daar was 'n positiewe atmosfeer in die stadion.
Keith Sharp (links) van die George-besigheidskamer en Peter Pedlar van Johannesburg Saterdag by die inhuldiging.
Pres. Ramaphosa het 'n basiese boodskap gelewer. Hy het nie gekom met doelstellings en beloftes nie. Hy het eerder aandag gegee aan basiese behoeftes soos kos op die tafel vir mense en om kinders te laat lees. "Dit was 'n boodskap van hoop.”
"Dit was bemoedigend dat pres. Ramaphosa ekonomiese groei prioriteit maak. Ek doen 'n beroep op sakelui om hande te vat en die land vorentoe te neem."
Die geleentheid het ook vir Afrika gewys dat Suid-Afrika is steeds 'n kernspeler op die kontinent.
Daar is wel groot uitdagings wat Ramaphosa sal moet hanteer. Dit sluit in die interne verdeeldheid in die ANC.
Volgens Cilliers was daar 'n wrang smaak of twee tydens die geleentheid. 'n Deel van die skare het oudpres. FW de Klerk en sy eggenoot uitgejou met hul aankoms en ook oudpres. Jacob Zuma wat nie opgedaag het nie.
In die geselskap waar Cilliers gesit het, het mense hul sterk uitgespreek teen die uitjouery van die De Klerks.
Two business leaders of George reacted positive after attending the inauguration of pres. Cyril Ramaphosa in Pretoria. Keith Sharp attended on behalf of the George Business Chamber and dr. Willie Cilliers on behalf of the AHi Western Cape.
Sharp said the event confirmed that South Africa have opportunities that must be used. Cilliers said he was encouraged by that fact economic growth is a priority of pres. Ramaphosa.
Daar was ook simboliek tydens pres. Cyril Ramaphosa se inhuldiging. Voor is dr. Wynand Boshoff, VF Plus-parlemenstlid en kleinseun van dr. Hendrik Verwoerd, 'n voormalige eerste minister en agter met die wit serp, Mandla Mandela, ANC-parlementslid en kleinseun van wyle pres. Nelson Mandela. Foto: Facebook Corné Mulder
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'