GEORGE NUUS - SA for Hope, 'n nie-winsgewende organisasie wat gedryf word deur vrywilligers wat hulle toespits op droogtehulp aan boere, hul werkers en plaasgemeenskappe, se groot harte stop nie daar nie.
Met groot opgewondenheid en baie beplanning deur al SA for Hope se lede vanoor Suid-Afrika is daar 65 oupa- en oumabederfboksies met liefde bymekaargesit om uit te deel aan die inwoners van Huis Hernus Kriel in Parow.
In koue en reën het ‘n groep vrywilligers van SA for Hope op Saterdagoggend, 30 September, vanuit George vertrek Kaap toe om by hul Kaapse eweknieë aan te sluit en van daar na Huis Hernus Kriel te gaan.
"Daar aangekom het 'n ongelooflike bestuurspan onder leiding van Estelle Pretorius ons met ope arms verwelkom. Daar was groot opgewondenheid onder die inwoners," sê Pieter du Plessis, SA for Hope-stigter en een van die direkteure.
SA for Hope het een ton vars groente, blikkies sop, ingelegde perskes, skoonmaakmiddels en bederfboksies aan die tehuis geskenk.
Braaibroodjies en ander bykosse is vir die seniors voorberei. SA for Hope-vrywilligers, van links: Ursula du Plessis, Hesmien Loots, Nakita Maree Loubscher, Charmaine Williams en Karin Volschenk.
Daar is ook braaivleisvure aangesteek en SA for Hope se lede het vir die seniors gebraai en almal het heerlik saam gekuier. Die bederfboksies is agterna uitgedeel en met groot dankbaarheid ontvang.
"Die senior burgers is vir ons ‘n voorbeeld. Hulle het diep spore in ons land getrap op die plase, in skole en in besighede om ons land se ekonomie op te bou. Ons salueer ons senior burgers vir hulle rol en voorbeeld wat hulle vir ons stel. Befondsing aan tehuise vir seniors is gesny en dit raak al moeiliker om die beste vir inwoners te bied.
"Tog word Huis Hernus Kriel pragtig onderhou en die bestuur se verhouding met die inwoners straal van liefde en trots. Dit is werk wat nie gedoen word vir 'n salaris nie, maar uit liefde, omgee en respek. Dit is in sulke oomblikke wat 'n mens dink die wêreld wil hierdie helde en heldinne vir ons wegsteek," sê Du Plessis.
Mense wat by SA for Hope betrokke wil raak kan aansluit by hul Facebook-groep of Pieter du Plessis kontak by 076 844 6435.
Die vrywilligers saam met van die personeel van Huis Hernus Kriel.
Van die bederfboksies wat SA for Hope-lede vanoor die hele land geskenk het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’