GEORGE NUUS - Of iemand hom daar afgelaai het en of hy homself by die George-PDSA tuisgemaak het, weet nugter alleen, maar Rooies is beslis enig in sy soort en op soek na 'n liefdevolle huis.
"Terwyl ek in die wagkamer by die PDSA gesit het, het ek 'n hond opgemerk wat alleen in die ry op die bankie lê. Ons het rondgevra na sy eienaar, maar Rooies was stoksielalleen," vertel York High Animal Club se Hayley Kayser.
Kayser, wat baie nou saam met die PDSA werk, was toevallig dié dag, Maandag 9 Mei, daar om vir 'n ander hond mediese behandeling te kry toe sy Rooies sien.
Toe Rooies se beurt aanbreek het die gesondheidsbeampte, Vanessa Lucas, hom ingeroep en hom ondersoek. Buiten vir 'n bietjie brandsiek op sy vel, het sy Rooies in 'n goeie kondisie verklaar.
Niemand het tot dusver opgedaag om Rooies te kom haal nie. Sy velprobleem het intussen ook opgeklaar, so hy is slaggereed om aangeneem te word.
"Hierdie seun het 'n spesiale huis nodig. Hy is werklik spesiaal en het die mooiste, sagste persoonlikheid. Hy is stroopsoet," vertel Kayser.
Enigiemand wat belangstel om Rooies aan te neem, kan die PDSA by 044 875 8300 kontak.
'n Vrou wat verkies om anoniem the bly, het vir Rooies 'n kombers geskenk.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'