GROOTBRAK NUUS - Anders as wat aanvanklik gereken is, het die groot branders en deinings wat verlede week kuslangs ervaar is, nie daarin geslaag om die riviermonding van die Groot-Brakrivier oop te breek nie.
Die hoë branders het wel daarin geslaag om bo-oor die sandbank, wat die monding van die see afsluit, te spoel en het meegebring dat die watervlak van die rivier, veral rondom die Eiland, baie gestyg het.
Mosselbaai munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee, het bevestig dat die munisipaliteit nie die monding sonder meer gaan oopmaak nie, veral nie omdat gevind is dat die sandbank daarin geslaag het om die eiendomme naaste aan die monding teen die aanslag van die branders te beskerm.
Beamptes verbonde aan die munisipale rampbestuursdienste het die situasie deurgaans gemonitor totdat finaal besluit kon word of die rivier meganies oopgemaak moet word, al dan nie.
Die hoër watervlakke het geen wesenlike gevaar vir inwoners ingehou nie, maar die situasie is fyn dopgehou.
"Die nodige noodplanne is in plek," sê adv Giliomee.
Die munisipaliteit het watervlakke in beide die Groot-Brakrivier en Hartenbosriviermondings deurgaans gemonitor, veral weens die rowwe seetoestande wat die afgelope week ervaar is.
Hartenbosrivier
Die munisipaliteit het intussen hul tevredenheid uitgespreek met die resultaat wat die meganiese oopmaak van die Hartenbosrivier die afgelope week tot gevolg gehad het.
Ook by hierdie rivier word die situasie deurgaans gemonitor en sal 'n besluit geneem word of die rivier wel dieper oopgemaak moet word, al dan nie.
Oewerbewoners van die Hartenbosrivier het intussen met dankbaarheid reageer op die munisipaliteit se besluit om die rivier wel meganies oop te maak en berig dat toestande op die korttermyn wel merkbaar verbeter het.
Huise op die Eiland in Groot-Brakrivier soos vanaf Suiderkruis gesien. Hoewel die watervlak baie hoog was, was geen eiendomme in gevaar nie.
'Ons bring jou die nuutste Groot-Brak, Tuinroete nuus'