Update
GEORGE NUUS - Die slotbetoë in die hooggeregshofsaak waarin Patrick Muller (40) aangekla word van die wrede moord en verkragting van Bianca Matroos (26) van New Dawnpark, is verlede Vrydag, 4 Februarie, afgesluit.
Die saak is uitgestel na 21 tot 23 Februarie vir uitspraak en moontlike vonnisoplegging deur regter Elize Steyn.
Muller word aangekla van moord, verkragting, ontvoering en roof met verswarende omstandighede. Matroos se liggaam is op Sondag 17 November 2019 onder bome in 'n veld naby die George Riding Club gevind.
Muller ontken al die aanklagte teen hom, maar het wel erken dat hy en die oorledene konsensuele seks op Donderdag 14 November in 'n vriend se voertuig by Club Nitro in die middedorp gehad het.
In sy slotbetoë het Muller se regsverteenwoordiger, senior advokaat Johan Visser, gesê die staat se saak is slegs op omstandigheidsgetuienis gegrond.
Daar is wel bewys dat die beskuldigde en die oorledene saam by Club Nitro gesien is. Hulle het die klub vroeg die volgende oggend, Vrydag 15 November, as passasiers in 'n voertuig saam met twee ander mans, verlaat.
Muller het getuig dat hy en die oorledene naby 'n kuierplek in Rosemoor, Busy Corner, agter die moskee uitgeklim het, maar dat hy Matroos daar gelos het en terug is huis toe.
'n Getuie in die saak het egter gesê dat hy die oorledene en die beskuldigde saam sien wegloop het.
Visser het verder genoem dat dit hoogs onwaarskynlik is dat die beskuldigde en oorledene onopgemerk deur die beboude gebied van die moskee na die misdaadtoneel kon loop terwyl hy besig was om haar te forseer en haar mond toe te druk.
Visser het gesê die aanklag van ontvoering is ongegrond. "Alhoewel daar op die sekuriteitskamera gesien kan word hoe die beskuldigde die oorledene uit die klub begelei, kom dit nie op ontvoering neer nie. Daar moet ook in gedagte gehou word dat hulle albei onder die invloed van drank was. Daar is ook geen bewyse dat die beskuldigde die oorledene beroof het nie," het Visser gesê.
Twee mans van Le Vallia, Enzol Jacobs en Henzel Davids, het albei in hulle getuienis aan die hof genoem dat hulle die beskuldigde kort na 05:00, die Vrydagoggend voor Matroos se lyk gevind is, langs Knysnaweg raakgeloop het toe hulle vanaf Le Vallia na CTM onderweg was.
Muller se meisie het getuig dat hy 07:30 daardie oggend by sy huis was.
"Selfs aanvaar die hof hulle [Jacobs en Davids] getuienis en dat die beskuldigde gelieg het oor die voorval is dit nie genoeg om te bevind dat hy die oorledene verkrag en vermoor het nie. Dit beteken slegs dat hy in die omgewing van die misdaadtoneel gesien is, 'n area naby sy huis en Mujos [waar sy meisie gewerk het]. Dat 'n man op 'n sekuriteitskamera naby die misdaadtoneel gesien is met soortgelyke klere aan as die beskuldigde, moet totaal geïgnoreer word. Die man kon nie geïdentifiseer word nie," het Visser gesê.
Die staat
In haar slotbetoë het staatsadvokaat Evadné Kortjé, gevra dat Mulle skuldig bevind word op die aanklagte van ontvoering, moord met voorbedagte rade en verkragting, maar nie op die aanklag van roof met verswarende omstandighede nie, aangesien daar nie genoeg getuienis is om hom hieraan skuldig te bevind nie.
Volgens haar was die beskuldigde 'n uiters swak getuie. Sy het gesê hy was aanhoudend ontwykend en het verkies om direkte vrae vaag te beantwoord. Hy het ook sy getuienis tydens kruisondervraging aangepas. Sy het benadruk dat die geheelindruk van die beskuldigde se weergawe baie swak was. Sy DNS is ook op die toneel gevind.
LEES MEER: Moordverhoor van jong ma amper voltooi
Kortjé het gesê dat indien die beskuldigde onbeskermde seks met die oorledene by Nitro gehad het, sy DNS nie op die misdaadtoneel gevind sou word indien hy nie daar was nie.
"Die beskuldigde erken dat hy sy Grasshopper-skoene skoongemaak het en dit buite sy Wendy-huis geplaas het. Dit is egter die staat se mening dat dit hoogs onwaarskynlik is dat hy sy duur skoene sou skoonmaak en buite die huis gelos het. Dit is egter hoogs waarskynlik dat die skoene nat en bevlek was met gras omdat die beskuldigde by die George Riding Club was waar hy die oorledene verkrag en vermoor het," het sy gesê.
IN SHORT
The closing arguments in the high court case in which Patrick Muller (40) stands accused of the brutal murder and rape of Bianca Matroos (26) from New Dawn Park, were concluded last Friday 4 February. The case was postponed until 21 to 23 February for judgement and possible sentencing by Judge Elize Steyn. Muller is charged with murder, rape, kidnapping and robbery with aggravating circumstances. Matroos' body was found under trees in a field near the George Riding Club on Sunday 17 November 2019.
Vorige artikels:
- Moordverhoor an jong ma amper voltooi
- Bianca Matroos is brutaal vermoor
- Getuies sien beskuldigde in Knysnaweg
- Riding Club murder trial starts in High Court
- Riding Club-moord in Hooggeregshof
- Moordverdagte sê nee vir borgtog
- Nog 'n jong vrou vermoor
- Man vas vir wrede moord
- Man arrested after murder at riding club
- Woman's body found at riding club
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'