GEORGE NEWS - Hoërskool Outeniqua se Isabeau Coetsee, ’n gr. 8-leerder, is as die mees belowende jong swemmer tydens die SuperSport Schools Class of 2026-toekennings aangewys.
Benewens dié nasionale erkenning is Isabeau ook gekies vir die span wat aan die 2026 Region 5 Youth Games in Maputo, Mosambiek, gaan deelneem.
Dié 14-jarige Kwagga het haar reeds met ’n reeks indrukwekkende prestasies op nasionale en internasionale vlak onderskei.
Tydens die 2026 Afrika-swemkampioenskappe in Algerië het sy twee goue medaljes in rugslag en ’n silwer medalje in die 50 m-rugslag verower.
By die African Aquatics Zone IV-kampioenskappe in Eswatini in 2025 het Isabeau altesaam 13 medaljes ingepalm, waaronder agt goud, drie silwer en twee brons.
Vanjaar het sy ook goud in die 50 m-rugslag tydens die Suid-Afrikaanse Senior Kortbad-swemkampioenskappe in Pietermaritzburg verower. Op slegs 14-jarige ouderdom het sy teen volwasse swemmers meegeding en was sy die jongste medaljewenner by die kampioenskappe.
Sy het verder sewe medaljes tydens die Suid-Afrikaanse Junior Nasionale Swemkampioenskappe verower, insluitend goud in die 50 m-vlinderslag, 200 m-individuele wisselslag en 50 m-rugslag.
Haar prestasies strek ook tot die nasionale skolesportkampioenskappe, waar sy as die senior victrix ludorum aangewys is.
Onder leiding van haar afrigter, Dirco Nienaber, bly Isebeau haar talent ontwikkel en nuwe doelwitte nastreef.
Die skool het haar gelukgewens met haar toekenning en verkiesing tot die span vir die Region 5 Youth Games, en haar alle sukses met haar voorbereiding en deelname in Maputo toegewens.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’