Update
GEORGE NUUS - Die man, wat aangekla word van die wrede moord en verkragting van Bianca Matroos (26) van New Dawnpark, is op Dinsdag 2 Februarie in die rondgaande hooggeregshof in George skuldig bevind.
Matroos se moordenaar, Patrick Muller (40) van Rosemoor, is aangekla van moord, verkragting, ontvoering en roof met verswarende omstandighede. Matroos se liggaam is op Sondag 17 November 2019 onder bome in 'n veld naby die George Riding Club gevind.
In haar slotbetoë, wat reeds op 4 Februarie afgesluit is, het staatsadvokaat Evadné Kortjé, gevra dat Muller skuldig bevind word op die aanklagte van ontvoering, moord en verkragting, maar nie op die aanklag van roof met verswarende omstandighede nie, aangesien daar nie genoeg getuienis is om hom hieraan skuldig te bevind nie.
Tydens uitspraak is Muller op die aanklagte van moord en verkragting skuldig bevind.
Regter Elize Steyn het bevind dat daar nie genoegsame getuienis was om hom bo redelike twyfel op die aanklag van ontvoering skuldig te bevind nie.
Muller het dwarsdeur sy verhoor die aanklagte teen hom ontken. Hy het wel erken dat hy en die oorledene konsensuele seks gehad het op Donderdag 14 November in 'n vriend se voertuig by Club Nitro in die middedorp, waar hulle saam gekuier het.
Muller het getuig dat hy en die oorledene naby 'n kuierplek in Rosemoor, Busy Corner, agter die moskee uitgeklim het, maar dat hy Matroos daar gelos het en terug is huis toe. 'n Getuie in die saak het egter gesê dat hy die oorledene en die beskuldigde saam sien wegloop het.
Twee mans van Le Vallia, Enzol Jacobs en Henzel Davids, wat sleutelgetuies in die saak was, het albei aan die hof genoem dat hulle die beskuldigde kort na 05:00 die Vrydagoggend voor Matroos se lyk gevind is, langs Knysnaweg raakgeloop het.
Hulle was vanaf Le Vallia na CTM onderweg. Muller se DNS is ook op die moordtoneel gevind.
Gedurende haar uitspraak het Steyn gesê dat hoewel van die getuies senuweeagtig was tydens die verhoor, was hulle steeds geloofwaardig.
Sy het Muller se getuienis as gebrekkig, onoortuigend en teenstrydig beskryf en gesê hy het gedurig sy weergawe van gebeure aangepas.
Vonnisoplegging is op 22 Maart.
Vorige artikels:
- Riding Club-moordverdagte wag nou vir uitspraak
- Moordverhoor an jong ma amper voltooi
- Bianca Matroos is brutaal vermoor
- Getuies sien beskuldigde in Knysnaweg
- Riding Club murder trial starts in High Court
- Riding Club-moord in Hooggeregshof
- Moordverdagte sê nee vir borgtog
- Nog 'n jong vrou vermoor
- Man vas vir wrede moord
- Man arrested after murder at riding club
- Woman's body found at riding club
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'