Update
GEORGE NUUS - Ná net meer as twee jaar, is Patrick Muller (40), die man wat van die wrede moord en verkragting van Bianca Matroos (26) aangekla en skuldig bevind is, vandeesweek in die rondgaande hooggeregshof in George gevonnis.
Matroos van New Dawnpark, se liggaam is op Sondag 17 November 2019 onder bome in 'n oop veld naby die George Riding Club gevind. Muller is 'n week later in verband met haar dood by Club Nitro in die middedorp, in hegtenis geneem.
Muller is op Dinsdag 22 Maart gevonnis op aanklag van moord en een van verkragting na hy in Februarie skuldig bevind is.
Vir die moord is hy tot lewenslange tronkstraf gevonnis en vir die verkragting is hy tot 10 jaar direkte tronkstraf gevonnis. Die vonnisse sal samelopend uitgedien word.
Muller ná hofverrigtinge Dinsdagmiddag.
"Ek is tevrede met die vonnis. Dis my eerste hooggeregshofsaak en ek voel ons harde werk het vrugte afgewerp," het die ondersoekbeampte, sers. John Boezak, na die hofgebeure gesê.
Muller van Rosemoor, is aanvanklik aangekla van moord, verkragting, ontvoering en roof met verswarende omstandighede.
Met die destydse uitspraak het staatsadvokaat Evadné Kortjé, in haar slotbetoë gevra dat Muller skuldig bevind word op die aanklagte van ontvoering, moord en verkragting, maar nie op die aanklag van roof met verswarende omstandighede nie, aangesien daar nie genoeg getuienis is om hom hieraan skuldig te bevind nie.
Bianca Matroos
Muller is op die aanklagte van moord en verkragting skuldig bevind ná Steyn bevind het dat daar nie genoegsame bewyse was om hom bo redelike twyfel op die aanklagte van ontvoering en roof ook skuldig te bevind nie.
Muller het dwarsdeur sy verhoor die aanklagte teen hom ontken en met vonnisoplegging het Steyn gesê sy getuienis was swak en teenstrydig. Sy het sy aksies as barbaars beskryf en kon geen rede vind om van die minimum vonnisse af te wyk nie.
Muller is deur senior advokaat, Johan Visser, verteenwoordig. Advokaat Evadné Kortjé is vir die staat en die saak dien voor regter Elize Steyn.
Appèlaansoek misluk
Kort ná vonnisoplegging het Visser namens sy kliënt 'n aansoek tot verlof om appèl gebring en gesê dat die veroordelings teen Muller gebaseer is op omstandigheidsgetuienis en dat dit moontlik was dat Matroos deur iemand anders vermoor is aangesien daar geen direkte bewyse was om sy kliënt aan die moord te verbind nie.
Die staat het die aansoek ten sterkste teengestaan en gesê dat al die getuienis en bewysstukke deeglik tydens die ondersoek en die verhoor deurgegaan is en dat die besluit nie anders sou wees in 'n ander hof nie. Die aansoek is deur die hof geweier.
Ondersoekbeampte, sers. John Boezak en staatsadvokaat, Evadné Kortjé, was albei tevrede met die vonnis. Foto: Kristy Kolberg
Vorige artikels:
- Lewenslank vir Riding Club-moordenaar
- Riding Club-moordenaar skuldig, bevind hof
- Riding Club-moordverdagte wag nou vir uitspraak
- Moordverhoor an jong ma amper voltooi
- Bianca Matroos is brutaal vermoor
- Getuies sien beskuldigde in Knysnaweg
- Riding Club murder trial starts in High Court
- Riding Club-moord in Hooggeregshof
- Moordverdagte sê nee vir borgtog
- Nog 'n jong vrou vermoor
- Man vas vir wrede moord
- Man arrested after murder at riding club
- Woman's body found at riding club
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'