GEORGE NUUS - Grant Robertson (35) van Conville, wat daarvan beskuldig was dat hy Rencia Jafta (27) van Parkdene in Julie 2019 aangerand, verkrag en vermoor het, is vandag, Donderdag 17 Maart, in die rondgaande hooggeregshof in George, skuldig bevind.
Jafta het die noodlottige aand, Vrydag 12 Julie 2019, by Robertson in sy woning in Bisonsingel gekuier toe die voorval plaasgevind het.
Buiten die aanklag van moord, verkragting en aanranding met betrekking tot Jafta, is Robertson ook skuldig bevind op aanklag van roof met verswarende omstandighede, drie aanklagte van die oortreding van 'n beskermingsbevel en twee van aanranding met die doel om ernstig te beseer.
Dié aanklagte spruit uit vorige voorvalle waarin sy vrou en 'n voormalige meisie betrokke was.
Robertson het dwarsdeur die verhoor skuld op al die aanklagte teen hom ontken en gesê die moord op Jafta was nie met opset nie.
Volgens hom het hulle albei die aand baie gedrink en saam geslaap. Sy het later die aand van die bed afgeval terwyl hulle besig was met omgang en haar kop gekap.
Hy het eers later besef dat sy dood is toe hy bloed op sy klere opmerk.
Hy het paniekbevange geraak, haar lyk met 'n duvet toegegooi en die huis verlaat om tik te gebruik.
Haar liggaam is die daaropvolgende Sondag gevind ná haar pa, Ben Jafta en lede van die Conville-polisie, Robertson se woning deursoek het. Hy is later dié dag in hegtenis geneem.
Die vonnisdatum sal môre, Vrydag 18 Maart, bekendgemaak word.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'