Update
GEORGE NUUS - Die geliefde Cedrick Robertson (41) van Blanco is Sondagaand skielik van sy familie en die gemeenskap weggeruk na 'n motorongeluk in Yorkstraat.
Robertson, sy vrou, Edwiena (37), en haar niggie, Zinandi Lamont, was omstreeks 20:30 in sy VW Polo onderweg vanaf Blanco na die middedorp via Plattner-boulevard toe die ongeluk plaasgevind het.
'n Audi, wat vanuit die teenoorgestelde rigting gekom het, het voor die Mahindra-motorhandelaar in Yorkstraat na bewering 'n U-draai gemaak. Robertson kon nie betyds stop nie en het die Audi aan die sykant getref.
"Al wat ek gehoor het was die remme wat skree en die slag toe ons die ander kar tref. Ek het nie geweet wat aangaan nie. Toe ek bykom was ek tussen die twee voorste sitplekke en Cedrick was reeds oorlede," het Lamont aan die George Herald gesê.
Robertson is op die toneel dood verklaar. Sy vrou is met ernstige beserings per ambulans na die George-hospitaal geneem. Lamont het slegs ligte beserings opgedoen.
Volgens Edwiena se tannie, Jenny Mattys, was Cedrick 'n geliefde man in die gemeenskap. "Hy was vol liefde vir sy medemens en het altyd probeer help waar hy kon. Dit het so skielik gebeur en ons almal is nog in skok. Ons gaan hom vreeslik mis," sê sy.
Begrafnisreëlings
‘n Huisdiens vir Robertson sal volgende Saterdagoggend 09:00 by 44 Vrugtestraat in Blanco gehou word. 10:00 kom almal by die VGK-kerk (ook in Blanco) vir die begrafnis byeen.
Teen druktyd was Edwiena steeds in die hospitaal se hoësorgeenheid.
'n Saak van strafbare manslag word ondersoek.
Robertson en sy vrou, Edwiena.
'n Audi, wat vanuit die teenoorgestelde rigting gekom het, het voor die Mahindra-motorhandelaar in Yorkstraat na bewering 'n U-draai gemaak. Robertson kon nie betyds stop nie en het die Audi aan die sykant getref.
'n Audi het na bewering 'n U-draai voor Robertson in sy VW Polo gemaak. Robertson kon nie betyds stop nie. Foto's: Kristy Kolberg
*A man from Blanco, Cedrick Robertson (40), died in a motor accident in York Street on Sunday evening. Robertson, his wife, Edwiena, and her niece, Zinandi Lamont, were driving down York Street in his VW Polo on their way from Blanco to the CBD via Plattner Boulevard at around 20:30 when the accident occurred. An Audi, that came from the opposite direction allegedly made a U-turn in front of the Mahindra car dealer in York Street. Robertson could not stop in time and hit the Audi's side. He died on the scene.
Lees 'n vorige artikel: Een dood in Yorkstraat-ongeluk
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'