GEORGE NUUS - Hy het al baie dooie en stukkende mense in sy 14 jaar as brandweerman gesien, maar in die afgelope week het David van Niekerk (51) 'n ander aspek van redding leer ken: om mense in jou arms te sien sterf.
David, 'n lid van die Tuinroete-distriks-munisipaliteit se brand- en reddingsafdeling, is een van die reddingswerkers wat onverpoosd en met verbetenheid gewerk het om mense van onder die bourommel op die Victoriastraat-ramptoneel uit te haal.
Hy was by toe 'n jong meisie daardie selfde aand van die insident bevry is, én vyf dae later toe Gabriël Guambe uit 'n holte onder 'n betonblad kon kruip nadat hulle 'n uitgang vir hom gemaak het.
"Wanneer jy iemand opspoor wat nog lewe, voel dit of jy daai staal kan afbyt om hom uit te kry. Jy wil so vinnig moontlik werk, want hy moet net nie iets oorkom nie," vertel David. Hy is baie beskeie en verwys voortdurend na sy kollegas en ander medewerkers se aandeel.
"Almal, masjienoperateurs, vrywilligers, veiligheidsbeamptes wat toegesien het dat ons veilig was waar ons werk, die hondehanteerders en honde, besluitnemers, en die media wat die nuus verantwoordelik uitgedra het, was onmisbaar deel van die reddingspan. Ons is net die spits van die spies."
Maar hulle taak moet fisies en geestelik seker die mees uitmergelende een op die toneel wees. David vertel hulle het letterlik met hul hande in die bourommel gegrawe om 'n persoon uit te haal.
Toe die gebou Maandag, 6 Mei in duie stort, het 'n geskatte 3 000 ton beton en staal in 'n oogwink die vyf-vlak gebou in 'n puinhoop verander. Dis senutergend as dit jóú taak is om die 81 mense wat binne-in vasgevang is, lewend te probeer uithaal.
David se span, onder leiding van Jethro Jacobs, was verheug toe hulle die jong meisie daardie eerste aand kon red.
"Ons brandweerhoof Deon Stoffels was daar tussen ons en het met sy eie hande help grawe. Hy is tipies 'n leier wat nie eenkant staan en bevele gee nie, maar saam met ons op die voorlinie werk. Ons het die meisie uitgesleep op 'n beseringsbord."
Die volgende persoon is in hulle hande dood. En dit sou die patroon wees wat hom in die daaropvolgende dae sou afspeel: die ekstase van 'n suksesvolle reddingspoging gedemp deur die vonds van 'n lewelose liggaam tussen die rommel.
Maar die hoë-impak opleiding wat hulle kry om vaardighede in te dril, skop outomaties in op so 'n toneel waar spoed en gefokusde optrede 'n verskil tussen lewe en dood beteken.
"Wanneer jy 'n liggaam vind, raak jy nie emosioneel nie. Jy sê vir jouself jy kan hierdie persoon nie meer help nie en jy moet net so vinnig moontlik werk, want dit verbeter 'n volgende een se kanse."
Jy het nie tyd om aan jou eie veiligheid te dink nie. Maar dis iets wat hy nie in sy eie hande hou nie. David se gesels is deurweef van 'n onwrikbare geloof.
"Ons doen 'n hoërisiko werk, maar ek is dankbaar dat ons eenheid gelowiges is wat soggens saamgebid het vir almal se veiligheid, en die Here het ons vir seker bewaar.
"Hy gee jou ook krag. 'n Mens druk jouself tot jy wil omval en teen die einde van 'n skof van 16 ure bereik jy die einde van jou perke, dan dra jou eie wil en krag jou nie meer nie.
"Ek het ook al baie ervaar hoe Hy jou planne gee wanneer jy op 'n toneel net nie weet watter kant toe nou nie.
"Ek glo ook dis deur die Here se genade dat ek nie die beelde van die liggame wat ek sien, in my ronddra nie. Ek gaan huis toe met die wete dat ek my alles gegee het om dié wat ek kon help, te help."
Skrape en wonde
Hy kom nie weg van die toneel sonder skrape en wonde nie. Die brandweerhoof, Deon Stoffels, sê David is nie een wat graag handskoene aantrek nie. Hy grawe sommer met die kaalhand, en die merke op sy arms getuig daarvan.
Maar David lag, "My vrou is 'n verpleegster so ek het sommer iemand by die huis wat my wonde versorg."
Om hul beste te kan gee, moet 'n brandweerman fiks bly. By hulle eenheid sal almal gewoonlik teen 16:00 elke middag hulle oefenprogram doen wanneer hulle daardie dag nie uitgeroep is na 'n brand of noodgeval nie.
Slangvanger
David is bekend as 'n slangvanger. Voordat hy en sy gesin hulle in George gevestig het, het hy die wêreld deur getoer en in verskeie lande gewerk.
Hy is mal oor diere en was op 'n stadium in ons eie land in Hoedspruit deel van 'n teenstropery-eenheid waar hy geleer slange vang het. Hy eet ook slangvleis.
Sy passie vir sy beroep het posgevat terwyl hy by 'n myn in Tanzanië gewerk het. Sy taak was grootliks om trokke se bande te vervang, maar die brandweerspan het hom begin saamnooi as slangvanger wanneer hulle na tonele uitgeroep is. "Ek het daar besef ek wil brandweerman word."
Hy het sy opleiding uiteindelik deur Fire Fly by Witfontein gedoen en is in 2009 as kontrakteur en enkele jare later permanent by die distriksmunisipaliteit.
Tuis is dit vir David lekker om man vir Iona en pa vir hul sesjarige woelwater Reilly te wees, wat graag na sy pa se stories oor sy wedervaringe luister.
'n Beskeie brandweerman gesels met die media. Foto: Deidre Cloete
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’