GEORGE NUUS - 'n Vrou wie se bankkaart by 'n OTM in die middedorp gesteel is, wil die publiek waarsku om niemand te vertrou wat by 'n OTM vir jou hulp aanbied nie.
Sy was Vrydagmiddag 10 November besig om geld te trek. Net nadat sy haar kaart by die OTM-gleuf ingedruk en haar PIN ingetik het, en 'n bedrag wou invoer, het 'n vreemde man nader gestap en gesê sy moet die transaksie kanselleer want die masjien het nou net sy kaart ingesluk en nie sy geld uitgekeer nie.
Hy het toe self haar transaksie gekanselleer, ten spyte daarvan dat sy hom probeer wegdruk het, vertel sy.
"Die masjien het my kaart uit die gleuf gestoot en die man het dit gevat en weer ingedruk.
"Ek dink hy moes in hierdie oomblik my kaart met 'n vals een vervang het. Hy het weer 'n kaart by die gleuf ingedruk.
"Ek het my PIN weer ingevoer nadat die man verder weg gestaan het, maar ek dink 'n tweede man agter my het my dopgehou. Die OTM het hierdie keer die kaart ingesluk."
Die mans is daar weg en die slagoffer is dadelik na die naaste banktak toe. Daar moes sy hoor dat daar reeds R5 000 (haar daaglikse limiet) onttrek is by 'n ander OTM nie ver van waar sy geld wou trek nie.
Die vrou sê beide mans was netjies geklee en vriendelik. Sy was oorbluf. "Alles het vinnig gebeur.
Ek het eers die volgende dag aan skok begin ly. Ek is baie bewus van OTM-bedrog, want dit het met my suster in Johannesburg gebeur.
"En asof dit nie genoeg is nie, het my seun van die Kaap wat tans hier kuier se bank hom Sondag gebel en gevra of hy daarvan bewus is dat iemand besig is om vliegkaartjies op sy naam te koop."
Die vrou het 'n klag by die polisie gaan lê, maar teen Dinsdag
14 November nog nie weer van hulle gehoor nie. Konst. Rachel Hendricks, George se polisiewoordvoerder, het teen saktyd nog nie op 'n navraag van die koerant gereageer nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'