GEORGE NUUS - 'n Bejaarde inwoner van St. Paulsstraat in Denneoord moet die plaveisel voor sy inrit vir die sesde keer vervang nadat 'n waterpyp weer voor sy huis gebars het.
Noel Gargen (74) is omgekrap oor wat hy meen laslappiewerk is, wat vir die voortdurende probleme verantwoordelik is. "Die verswakte infrastruktuur moet vervang word. Nou maak hulle die pyp stukkie-stukkie reg," het hy gesê. "Hierdie probleem kom nou al 'n dekade lank aan." Boonop het 'n swaarmotorvoertuig, wat verlede week vir die herstel van die pyp benut is, die sementdeksel van 'n stormwaterpyp gebreek en skade aan die sypaadjie aangerig.
Gargen het gesê hy het geen idee wanneer en deur wie die gemors voor sy huis reggemaak gaan word nie. Hy is ook vies dat die opgrawings vir dae so gelos word, alvorens die munisipaliteit dit weer kom toemaak.
Volgens die munisipale woordvoerder, Chantel Edwards-Klose, is 'n instruksie reeds gegee vir die opruiming en volledige herstel van die gedeeltes wat beskadig is. "Waterpype word vervang volgens 'n pypvervangingsprogram en hierdie gedeelte sal weer geëvalueer word aangesien dit nie tans as prioriteit op die program voorkom nie," het sy gesê.
Die werk van 'n swaarmotorvoertuig wat oor die sypaadjie moes ry tydens die herstel van die pypbars in St. Paulsstraat.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'