GEORGE NUUS - Die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) sê hulle kan nie 'n skool forseer om sy naam te verander nie, maar die herstelproses is belangrik vir die departement, so sê die minister se woordvoerder, Jessica Shelver. Sy sê die departement sit met nalatenskappe van apartheid wat mense uitgesluit laat voel, selfs in skole.
Shelver sê minister Debbie Schäfer het reeds in 2015 met skole in die provinsie, wat voel hul skool se naam is steeds verteenwoordigend van die apartheidsera, gepraat.
"Sy het toe gevra dat sulke skole 'n aansoek aan die WKOD rig om hul skool se naam te verander na een wat meer inklusief is."
Hier in George is PW Botha Kollege so 'n skool. Die waarnemende skoolhoof, Kobus Koekemoer, sê die proses is al 'n geruime tyd aan die gang en is ook deur die skool se SBL goedgekeur.
"Ons het ook onlangs deur middel van die skool se nuusbrief die ouers se insette gevra vir 'n gepaste naam. Die hoofoorweging vir 'n naamsverandering sluit ook in dat die skool eintlik 'n skool van wiskunde, wetenskap en tegnologie is en dat dit tans nie in die naam weerspieël word nie. Die nuwe naam moet verkieslik hierdie baie belangrike komponent van die skool weerspieël."
Hy sê verder hy wil dit ook baie duidelik maak dat 'n naamsverandering baie tyd neem en dat dit ook groot finansiële implikasies meebring.
Shelver sê die proses word geheel en al deur 'n skool se beheerliggaam hanteer.
Brendan Adams van die Pacaltsdorp erfenis en kulturele raad sê hulle het 'n brief aan die skool gerig waarin gevra word om so spoedig moontlik die skool se naam te verander. Adams sê as 'n Khoisan-stamhoof maak dit seer en is dit vernederend dat 'n skool steeds die naam dra van iemand wat help bou het aan die apartheid-sisteem.
"Ek dink julle sal instem dat die naam van die skool steeds aanstoot gee en herinner aan 'n tyd in die verlede wat seergemaak het en baie onregverdig was. Met die oog op versoening vra ons dat die naam verander word wat 25 jaar na demokrasie steeds 'n naam dra van een van die apartheidsleiers."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'