GEORGE NUUS - Prof. Tania Douglas, enigste dogter van dr. Aubrey en Rita Douglas van Pacaltsdorp is op Saterdag 20 Maart oorlede ná 'n stryd teen kanker.
Douglas het aansien geniet op 'n internasionale vlak in die biomediese ingenieurswêreld. Sy was tot met haar dood verbonde aan die Universiteit van Kaapstad (UK) as adjunkdekaan van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe.
Sy is in Pacaltsdorp gebore en getoë. Volgens haar ouers het sy haar van jongs af toegewy aan haar akademiese loopbaan en deurgaans prestasiediplomas op skool verwerf.
Sy het in 1987 aan Pacaltsdorp Sekondêr gematrikuleer as 'n A-kandidaat.
"Ons vermoede dat sy bestem was vir 'n uitsonderlike akademiese loopbaan is bevestig toe sy die tweede plek in die nasionale matrikulasie-eksamen (van die destydse Huis van Verteenwoordigers) behaal het," het haar pa gesê.
Ná skool het Douglas Kaapstad toe verhuis en die graad BSc Elektroniese Ingenieurswese aan die UK voltooi.
Dit is opgevolg deur haar meestersgraad in biomediese ingenieurswese aan die Vanderbilt Universiteit in Nashville (Tennessee, VSA). Sy volg dit op met 'n doktorsgraad op dieselfde vakgebied aan die Strathclyde Universiteit in Glasgow, Skotland en sy verwerf daarna 'n postdoktorale genootskap in Tokio by die Japannese uitsaaikorporasie.
Sy was ook 'n Humboldt-fellow by die Max Plank Instituut vir Neurologiese Navorsing in Cologne en Freie Universität in Berlyn.
Douglas het in Augustus 2000 as dosent aangesluit by die mediese skool van Universiteit Kaapstad.
Gedurende haar dienstermyn het sy etlike erkennings ontvang en is sy tot professor bevorder.
Sy het steeds studeer en het eers 'n MBA aan Ikeys en toe 'n meestersgraad in toegepaste etiek aan die Universiteit Stellenbosch verwerf.
Wyle prof. Tania Douglas saam met haar ouers, dr. Aubrey en Rita Douglas, toe sy haar MBA aan die Universiteit van Kaapstad ontvang het.
Douglas is in 2018 as die Quartz Africa Innoveerder aangewys en in 2019 het sy die Suid-Afrikaanse Vroue in Wetenskap-toekenning van die Nasionale Navorsingstigting ontvang.
In dieselfde jaar het die Jeda-stigting ook 'n Presidensiële Ikoon-toekenning aan haar oorhandig.
Volgens haar ouers was Douglas 'n toegewyde akademikus wat te alle tye haar beste gelewer het vir haar kollegas en studente.
"Sy was deur en deur 'n familiemens. Besoeke in Pacaltsdorp met ouers, grootouers en wyer familie was vir haar 'n helende ervaring wat sy saamgeneem het op haar oorsese reise, werkservarings en druk akademiese program.
"Haar familie, vriende en kollegas getuig dat sy haar lewe met buitengewone grasie en waardigheid geleef het en haar siekte op dieselfde manier hanteer het.
"Sy was altyd vriendelik en saggeaard met 'n pragtige persoonlikheid wat sy uitgestraal het." 'n Gedenkdiens vir Douglas word gehou op Saterdag 10 April om 10:00 in die NG kerk Wynberg.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'