GEORGE NUUS - Die vertraging in diens by die George-motorlisensiekantore vandag, Maandag 1 Junie, is veroorsaak deur probleme met sekere komponente van die nasionale Natis-lisensieregistrasiestelsel.
'n Lang tou was al van vroegoggend af aan die opbou en van die lede van die publiek het gekla dat slegs een kassier oop was om almal te bedien.
Volgens Athane Scholtz, 'n kommunikasiebeampte van die George-munisipaliteit, kon slegs twee van die kassiere op die Natis-stelsel werk.
"Die probleme is intussen deur die verantwoordelike owerheid uitgesorteer. Die publiek is tydens die vertraging persoonlik deur die betrokke bestuurder van die rede vir die vertraging in kennis gestel en ‘n beroep is op hulle gedoen om eerder van die munisipaliteit se tydelike aanlyn-lisensiehernuwingsdiens gebruik te maak. Sodoende kan hulle hul transaksies op ‘n veilliger en minder moeisame wyse afhandel."
Scholtz het die publiek gevra geduldig te wees terwyl ander opsies deur die nasionale owerheid in plek gestel word om meer aanlyndienste daar te stel. "Die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) is tans besig om verbeterings aan die nasionale stelsel aan te bring wat binnekort gereed behoort te wees om na alle provinsies uitgerol te word."
Sy het gesê die geldigheid van motorlisensies is verleng met 90 dae en sal dus eers op 30 Augustus 2020 verstryk.
Om die tydelike elektroniese motorlisensiehernuwingsmeganisme van die munisipaliteit te gebruik, besoek https://online.natis.gov.za/#/.
Volg die proses en e-pos dan 'n bewys van betaling aan msbrits@george.gov.za of rharmse@george.gov.za of mjulyan@george.gov.za.
Hou 'n afskrif van die betalingsbewys in jou motor totdat jy jou lisensieskyfie ontvang. Hou die skyfie wat verval het intussen op jou motor se ruit. Sodra die betaling op die munisipaliteit se bankstaat reflekteer, sal die motorlisensie geprosesseer en gepos word.
Verwante artikel: Lang tou by voertuiglisensiekantoor
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'