Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Kinders van Rosedale is verlede Vrydag bederf met 'n pretdag vol speletjies en lekkernye. Die pretdag is by die Rosedale Education Community Centre gehou - 'n sentrum wat dien as 'n speelskool, rekenaarlokaal en 'n plek waar jong mense hul CV's kan regkry vir die werksmark.
Cynthia Bruinders, 'n gemeenskapsleier, sê die sentrum is daar vir die gemeenskap, maar omdat hulle 'n nie-regeringsorganisasie is, maak hulle grootliks staat op donasies.
Die pretdag was volgens Bruinders om die kinders en ouers te bedank vir hul ondersteuning en dat die kinders gereeld skool toe kom.
Vir Bruinders is dit belangrik om dankie te sê asook om gereeld te bid, omdat sy glo as mens dankbaar is gaan deure vir jou oop. Die sentrum was 'n hartsdroom van Bruinders en alhoewel dit nie baie groot is nie en sy dit aan haar huis moes aanbou, dien dit steeds as 'n groot hulp vir die gemeenskap van Rosedale.
Sy meen die kinders van Rosedale is reeds afgeskryf omdat hulle in haglike omstandighede grootword. Dis juis waarom die sentrum so belangrik is, vertel sy. "Elke kind se handdruk is op die muur gesit en daar is gebid vir elk van daardie kinders om hul omstandighede te oorleef en as wenners anderkant uit te kom."
Kyk 'n video hieronder:
Bruinders sê hulle is ook dankbaar vir die skenking van rekenaars waarmee hulle jong mense die basiese vaardighede kan aanleer. Sy doen 'n beroep op enigeen wat opvoedkundige materiaal het, om dit aan hulle te skenk.
"Ons wil 'n leeshoekie begin. Dit sal ook die kinders help met beide Afrikaans en Engels om beter op skool te vaar. Ons het reeds met wiskundeklasse begin," vertel sy.
Kinders het tougestaan om 'n plekkie te kry en saam die dag te geniet.
Cynthia Bruinders gesels met die kinders wat opgedaag het vir die pretdag in Rosedale.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'