Update
LEES DIE NUUTSTE: POLISIE ONDERSOEK ONDERONSIE TUSSEN EIE LEDE
GEORGE NUUS - ‘n Onderonsie in die aanklagkantoor van Conville-polisiestasie waarvan ‘n video wyd op sosiale media gesirkuleer is, word tans krimineel en dissiplinêr deur die polisie ondersoek.
Polisiebeamptes van Conville-polisie, sowel as twee beamptes van die Pacaltsdorp-polisie wat op daardie stadium van diens af was, word by die voorval verlede Donderdag, 7 Mei, betrek.
Die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, het vanmiddag bevestig dat die saak onder die aandag van die polisie se streeksbevelvoerder gebring is, en dat hulle reeds met ‘n ondersoek begin het.
Volgens Pojie dui ‘n voorlopige ondersoek daarop dat die twee polisielede van Pacaltsdorp-polisie, wat van diens af was, by vriende in La Valia gekuier het.
Hulle gedrag het buite beheer geraak en die Conville-polisie se hulp is ingeroep.
“Die twee polisielede se gedrag was teenstrydig met die bepalings van die wet op rampbestuur. Hulle is in hegtenis geneem, waarna die saak by die polisie se aanhoudingselle geproseseer is,” het Pojie gesê. “Hier het hulle weer oproerig geraak en die polisie moes geweld gebruik om hulle in toom te hou.”
Volgens Pojie is die saak ook onder die aandag van die Onafhanklike Polisie Direktoraat (Opod) vir moontlike ondersoek gebring. “Ons [die polisie] het die gemeenskapslid bedank wat die saak onder die aandag van die streeksbevelvoerder gebring het,” het Pojie gesê.
Vorige artikel: Tonge los oor video in Conville-polisiestasie
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'