GEORGE NUUS - Polisiebeamptes wat glo inwoners van Borcherds vuil taal toegesnou en 'n beweerde misdadiger aangerand het, het plaaslike radio-aanbieder, Christo Gawie, rooi onder die kraag.
"Ek het 'n goeie verhouding met ons polisie en is totaal teen misdaad gekant, maar wat hier gebeur het, is onaanvaarbaar. Ek ken nie die beamptes nie, maar hulle optrede was skokkend en dit moet aangespreek word," sê Gawie ná 'n onlangse beweerde voorval van polisiebrutaliteit by sy huis in Charlie Hugostraat.
Volgens Gawie het 'n groep beamptes op Sondagoggend, 6 Januarie tussen 01:00 en 02:00, 'n vlugtende verdagte in hulle erf vasgetrek.
"Die beamptes het die man in ons erf vasgepen. Ons hond het begin blaf en my ma het gaan kyk wat aangaan. Toe sy die deur oopmaak, sien sy hoe die beamptes 'n jong seun met pikstele, stokke en verskeie ander voorwerpe, takel. My ma was geskok en het gevra hoekom hulle die kind so slaan." Sy ma het hulle gevra om te loop. "Dis tóé dat hulle haar begin vloek en terugjaag na die huis."
Gawie, wat tydens radioprogramme talle onderhoude met die polisie voer om misdaad te bekamp, is baie teleurgesteld.
"Hulle het geen toestemming gehad om die verdagte so te behandel nie. As my hond hulle aangeval het, sou hulle hom seker geskiet het.
"Hier is tans heelwat polisielede wat nog opleiding ontvang. Is dit hoe hulle opgelei word om situasies te hanteer? Hoe wil die polisie 'n verhouding met die gemeenskap bou as dit is wat hulle doen? Ons verwag ten minste 'n verskoning aan my ma."
Die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, het bevestig dat die polisie die klagte ondersoek.
"Die persoon wat aangestel is om die klagte te ondersoek sal binnekort met mnr. Gawie kontak maak. Die klaer het die klagte na die polisie se klagtesentrum sowel as die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) gestuur. Vordering sal met die klaer gedeel word."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'