GEORGE NUUS - Die eerste plakkate vir die tussenverkiesing in wyk 18 het sedert verlede naweek op lamppale begin verskyn. Die verkiesing vind op Woensdag 25 April plaas, en volg na die bedanking van die voormalige DA-wyksraadslid, Gert Niehaus.
Die Vryheidsfront Plus (VF Plus) was heel voor in die koor met plakkate van hul kandidaat, Gert van Niekerk, wat reeds gedurende verlede naweek opgerig is. Die African Christian Democratic Party (ACDP) het Maandag laat wiel om hul kandidaat, Karen van Zyl, sigbaar te maak.
Die DA-kandidaat, Jannie van der Westhuizen, het Dinsdagoggend in eendeweer self 'n leer beman om die eerste plakkaat voor die Denneoord NG Kerk op te rig.
In 'n verrassende wending het beide die ANC en EFF ook elkeen 'n kandidaat vir die tussenverkiesing geregistreer. Altesaam vyf politieke partye gaan dus kandidate beskikbaar stel.
Die ANC se kandidaat is Valesca Erlank en die kandidaat vir die EFF is Marthinus Muller. Wyk 18 is tradisioneel 'n "DA-wyk" waar die party tydens die laaste verkiesing met 'n 90% meerderheid gewen het.
Plakkate van die VF Plus se kandidaat, Gert van Niekerk (bo) en Karen van Zyl van die ACDP pryk op 'n lamppaal by Geneva Superette, in Denvarpark.
Mervin Olivier, ANC-sekretaris van die George-substreek, het gesê hulle is goed daarvan bewus dat dié wyk sterk DA-ondersteuning geniet. "Die ANC neem egter graag in elke verkiesing deel," het hy gesê.
"Ons is positief dat ons hierdie keer meer stemme gaan kry."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'