GEORGE NUUS - Die 19-jarige Duran Ruiters, wat verlede jaar aan Hoërskool George gematrikuleer het, het pas sy drome as akteur begin bewaarheid. Duran, wat 'n passie vir drama het, het onlangs 'n groot rol losgeslaan in die gewilde TV-reeks, Kelders van Geheime, wat op e.tv uitgesaai word.
Duran vertolk die karakter van Steven, 'n matriekseun wat 'n unieke verhouding met sy ma het.
"Steven is 'n karakter wat in sy eie wêreld leef, en dit was uitdagend om hom geloofwaardig uit te beeld. Ek het myself in die rol geplaas om dit realisties te maak," sê Duran.
Sy rol het hom die geleentheid gebied om saam met bekende akteurs soos Angelo Johnson en Angelo Bregh te werk, wat onderskeidelik die rolle van CJ en Marco Marais vertolk. "Ek het baie by hulle geleer, en ek is dankbaar vir die kans om langs sulke talentvolle mense op stel te wees," sê hy.
Duran se ervaring op stel was 'n leerskool van formaat, en hy het al vroeër op nasionale TV verskyn in produksies soos Agter Slot en Grendel, Juffrou X, en Ouma Sarie. Hy erken dat dit harde werk en deursettingsvermoë verg om in die akteursbedryf te oorleef en dat hy al besef het dat opoffering deel is van die beroep.
Hy wil graag ander jongmense aanmoedig om hul drome te volg. "Ek wil vir die jeug wys dat alles moontlik is as jy hard werk en God eerste stel. Dit is nie altyd maklik om 'n akteur te wees nie, maar as jy bereid is om te baklei vir wat jy wil hê, kan jy jou drome bewaarheid."
- Duran se eerste verskyning as Steven in Kelders van Geheime is vanaand, Vrydag 15 November om 18:00 op e.tv.
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’