Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Hy het pas sy agtiende verjaarsdag gevier en reeds 'n paar buigings op die verhoog gemaak. Duran Ruiters, 'n matrikulant van Hoërskool George, wéét waar sy passie lê.
Eksamens hou die jong man nou baie besig, maar hy het tog tyd ingeruim om 'n rol los te slaan in die Ouma Sarie-televisiereeks van Moses Williams wat tans deur Garden Route Media in George vir e.tv geskiet word.
"Die program waarop ek verskyn behoort in Junie op die kassie te wees," het Duran gesê.
Vroeër die jaar het Duran die rol van 'n polisie-inspekteur in die reeks, Verlore Liefde (die Tuinroete in krisis), wat in Proteapark geskiet is, gespeel. Dit is 'n YouTube-reeks deur Wayden Roelfse wat handel oor ontvoering en korrupsie, en sal einde Junie te sien wees.
Duran is ook een van die gelukkige leerders in Hoërskool George wat gekies is om aan 'n televisiereeks vir kykNET deel te neem.
Die verfilming het vanjaar by die skool geskied en is deur Meerfout Films en Garden Route Media behartig. Hoërskool George se dansonderwyser William Constable was nou betrokke by hierdie projek.
In die laaste kwartaal van verlede jaar het Duran oor 'n tydperk van vier maande, op sy eie, na Melkbosstrand gereis om deel te neem aan die kortfilm, Agter slot en grendel, as 'n projek van Speeltoneel. Hier kry jong en ouer opkomende toneelspelers die kans om meer oor die bedryf te leer en om op nasionale televisie in 'n kortfilm te verskyn.
VIDEO: Dramaleerder gesels oor sy toneelspeel
Volgens sy dramajuffrou Eureka Mooney-Johannes is Duran 'n "go getter" met ongelooflike dryfkrag, met wie sy soms koppe stamp. "Hy is 'n drama A-kandidaat en weet wat hy wil hê. Hy sal hard werk daarvoor," het sy gesê.
Skoolhoof Rodney Cupido noem Duran 'n "ongelooflike ambassadeur" vir die skool: "Hy weerspieël die eienskappe van 'n student waarop 'n skool trots kan wees. Hy is respekvol en nederig. Deelname aan die films het nie sy menswees verander nie."
Intussen het Duran groot planne vir sy toekoms, en sal hy graag drama aan een van die Wes-Kaapse universiteite wil studeer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’