GEORGE NUUS - Hy is glo baie gewild onder die jong meisies van Golden Valley in Blanco. Véral die minder bevoorregtes wie se stilswye hy na bewering gekoop het in ruil vir 'gunsies'.
Dit het 'n betroubare bron aan die George Herald vertel ná die borgtogaansoek van twee mans wat in Junie vir verkragting, mensehandel en poging tot seksuele aanranding van 'n minderjarige meisie (15) in hegtenis geneem is.
Een van die mans is 'n bekende sakeman en besit 'n plaas in die omgewing.
Die verdagtes, onderskeidelik 37 en 66 jaar oud, is deur lede van die gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe-eenheid (GKS) in hegtenis geneem nadat 'n tienermeisie van Blanco 'n klag by die polisie ingedien het.
Na die George Herald met verskeie gemeenskapslede gesels het, het dit op die lappe gekom dat die 66-jarige verdagte blykbaar tienermeisies vir seksuele gunsies betaal.
"Hy het presies geweet wat om te doen dat hulle nie praat nie. Hy het hulle betaal," het 'n ma van een van die meisies gesê.
"Ek het haar gevra hoe sy aan al die mooi klere en skoene kom. Sy het tot gespog met 'n nuwe selfoon en vir my gesê die 66-jarige verdagte gee vir haar geld omdat ons armoedig is."
Die ma van die slagoffer kon nie aan die George Herald bevestig hoe ver die verdagte met haar dogter gegaan het nie, maar volgens haar het hy wel met haar dogter gepeuter en haar daarvoor betaal.
Tydens gesprekke het dit voorgekom of van die betrokke meisies baie ongelukkig is oor die 66-jarige se aanhouding, omdat hulle kwansuis nou nie meer 'n inkomste verdien nie.
Volgens 'n winkeleienaar in die omgewing het die verdagte gereeld koeverte met geld, wat later deur jong meisies opgetel is, by sy winkel gelos. Dit was blykbaar geld wat hy vir armoedige gesinne geskenk het om onder andere krag, kruideniersware en sanitêre produkte te koop.
Die winkeleienaar het dit stopgesit na die verdagte slaags geraak het met die kassiere oor een van dié koeverte wat weggeraak het.
Tydens die borgtogaansoek op Woensdag 26 Julie, het die staat aangevoer dat die 37-jarige verdagte die 15-jarige klaagster uit Golden Valley gelok en omgepraat het om pornografiese foto's van haar te neem.
Hy het na bewering ook 'n pornografiese video van die meisie gemaak waarna hy haar verkrag het. Volgens 'n bron het hy klaarblyklik ook noue bande met 'n dwelmbaas van George.
Die borgtogaansoek van albei mans is weens 'n gebrek aan tyd tot 7 Augustus uitgestel.
Lees 'n vorige arikel: Seksdade met meisie
ARTIKEL & FOTO: KRISTY KOLBERG, GEORGE HERALD JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'