Petro vertel dat sy in haar motor geklim het wat in die parkeergebied van Pick n Pay, Knysnaweg geparkeer was waar sy gou ingegaan het om bokse vir haar dogter te gaan haal. Die laaste wat sy egter kan onthou is dat sy met 'n karwag daar gesels het.
Sy weet nie dat sy daarna oorgery het na die parkeerarea aan die oorkant (by die motorwassery) nie, en dat sy daarna, in plaas daarvan om na Meyerstraat se kant toe te draai na haar dogter in Denneoord, na die besige Knysnaweg gery het nie. Dit was tussen 13:00 en 14:00, die besigste tyd van die dag.
Vandaar is sy tot by die sirkel by die museum, waar sy links in Yorkstraat gedraai het. Sy is oor 13 verkeersligte sonder dat sy daarvan bewus was, voordat haar motor tot stilstand gekom het op die sypaadjie voor die Wesbank-motorhandelaar (langs Tavcor). Haar motor het net 'n skrapie waar dit teen 'n klein paaltjie op die sypaadjie gebots het.
Petro het agterna eers gehoor dat 'n man in 'n wit Nevara van die verkeerslig by Duggies agter haar aangery het, "soos 'n engel wat gestuur is"."Ek het blykbaar baie stadig gery en was met tye aan die verkeerde kant van die pad. Die man het gemerk dat daar iets fout was. Hy het geduldig agter my aan gery tot my motor uiteindelik in Yorkstraat van die pad af gery en op die sypaadjie tot stilstand gekom het," vertel Petro.
"Ek is net só dankbaar dat die Here my bewaar het. Ek glo Hy het sy hand oor my en al die ander motoriste gehou. Ander mense kon ook baie seergekry het. Ek kan nie glo dat niemand in my vasgery het nie."
Petro sê toe sy weer bykom, was sy in 'n ambulans. Sy glo dat haar suikervlakke geval het en dat dit saam met die hitte binne die motor wat in die son geparkeer was, een te veel was vir haar.
Petro het die personeel van ER bedank vir hulle uitstekende diens, asook Elton Jantjies, die verkeersbeampte wat in Yorkstraat op die toneel was, en die weldoener wat in die wit Nevara agter haar aan gery het. Sy vra dat hy haar kontak by 076 762 2027 aangesien sy hom graag persoonlik wil bedank.
Petro Spies by haar motor wat net 'n skrapie opgedoen het. Foto: Alida de Beer
ARTIKEL EN FOTO'S: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George | Tuinroete nuus'