GEORGE NUUS - Te danke aan die PBI (Plaaslike Besorgde Inwoners) het sowat 28 hulpbehoewende kinders van Syferfontein hul skooljaar met splinternuwe skoolklere begin.
Die leerders is ook, met behulp van die party, suksesvol by New Dawn Park Primêr geplaas nadat hulle gesukkel het om by 'n ander skool plek te kry.
Virgill Gericke, die partyleier sê die ingryping volg nadat bekommerde ouers hom genader het.
"Die PBI het die noodroep van die ouers ter harte geneem en dringend werk gemaak van hul kinders se omstandighede.
"Die leerders het almal vol stelle nuwe skoolklere en skoene van die PBI ontvang om hul nuwe skooljaar te begin.
"Tesame met ander rolspelers het die PBI selfs vervoer gereël vir die leerders totdat die onderwysdepartement die subsidie goedkeur vir hierdie leerders."
"Ons was bekommerd dat hierdie kinders nog 'n jaar van skool kon verloor. Ons moet alle pogings aanwend om ons kinders van die strate af te hou en te keer dat hulle in misdaad verval."
Die leerders van New Dawn Park Primêr lyk spoggerig in hul nuwe skoolklere. Van links is Virgill Gericke (PBI-leier), Rochelle Slinger (gemeenskapswerker in Syferfontein), PBI-raadslid Patrick Buys en New Dawn Park Primêr se skoolhoof, Piet Fielies.
Gericke wil graag Cake Dome-bakery, Vispaleis en Highway Fisheries, sowel as Ginela Security wat mildelik bygedra het om hierdie projek 'n sukses te maak, bedank.
"'n Spesiale woord van dank aan die skoolhoof, mnr. Piet Fielies en sy personeel, vir die hartlike ontvangs van hierdie leerders.
Millie Lodewyk
"As 'n gemeenskap hande vat, kan die onmoontlike gebeur. Baie dankie ook aan Millie Lodewyk en Rochelle Slinger vir hul onbaatsugtige bydra tot hierdie suksesverhaal."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'