Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - 'n Rivierwal sowat vyf meter van 'n woonhuis in Molenrivierrif, wat met elke reënbui verder erodeer, gee die eienaar behoorlik grys hare.
Die huiseienaar, pastoor Cedric Smart, is een van 'n paar inwoners van dié woongebied langs Rosemoor wat groot probleme met die Molenrivier ondervind. Smart se huis word egter die meeste beïnvloed omdat dit die naaste aan die rivier geleë is.
Volgens Smart is Molenrivierrif sowat 17 jaar gelede ontwikkel toe plotte aan die gemeenskap deur George-munisipaliteit beskikbaar gestel is. Hy was destyds baie ingenome om 'n plot so naby aan die rivier te bekom, omdat hy geweldig lief is vir die natuur. Na sy wete is daar nooit 'n omgewingsimpakstudie gedoen nie. Hy het gesê alhoewel die rivier tóé sowat 100 meter van sy huis gevloei het, dit steeds hopeloos te naby was.
Hierdie inligting het hy egter eers later bekom en vele gesprekke is met die George-munisipaliteit oor die laaste tien jaar gevoer, en weereens by 'n onlangse IDP-vergadering. Hulle wag tans vir terugvoer.
"Die rivier het oor die jare verbreed en sy natuurlike vloei het ook verander. Hierdie is 'n potensiële ramp," het Smart gesê. "Ek kan ook nie my huis verseker teen moontlike skade nie, want die versekering vereis dat 'n huis minstens 300 meter van 'n rivier geleë moet wees." Op die koop toe sukkel inwoners met stormwater wat blykbaar in die rivier afloop.
"'n Berg voor 'n berg". Dit is hoe inwoners die hoop grond voor hul pragtige berguitsig beskryf. Die grond lê op die sportveld van George High en is die produk van opknappingswerk aan Mission Road.
Wegkruipplek vir boewe
Die rivier is erg oorgroei en bied die ideale skuilplek vir kriminele wat glo in die bosse wegkruip na huisinbrake in die omgewing. Volgens Damon van Heerden, die voorsitter van Molenrivierrif se behuisingskomitee, is 'n liggaam vroeër in die bosse by die rivier gevind.
Charlie Zana, die ondervoorsitter van die komitee, is weer baie ontstoke oor 'n onooglike berg grond voor die huise wat grens aan George High. "Ons uitsig is heeltemal versper met die grondwal, weens die opgradering van Mission Road," het hy gesê.
Munisipale amptenare het Molenrivierrif verlede jaar in Junie besoek. Volgens inwoners het hulle onderneem om aandag te skenk aan die probleem. Foto: verskaf
Tussen die boom en die bas
Die munisipale bestuurder, Trevor Botha, het by navraag geantwoord dat die munisipaliteit in gesprek is met die departement van waterwese om te bepaal waar die department se verantwoordelikheid stop en die munisipaliteit s’n begin. "Riviere is oor die algemeen nie 'n munisipale verantwoordelikheid nie en waar dit deur 'n dorp loop en moontlike gevare mag inhou, moet dit aan die departement gerapporteer word," het hy gesê.
"Die munisipale stormwateruitlaatstruktuur in die area het wel skade en is reeds op die program geplaas vir herstel.
Waar dit betrekking het op die munisipaliteit se stormwater meesterplan vir daardie area, sal voorsiening gemaak word op die 2019/20 bedryfsbegroting, wat gewoonlik die vloedlynbepaling en mitigerende aksies soos die beveiliging van rivierwalle insluit, en sal dan as insette vir die 2020/21 kapitaalbegroting dien."
Kyk twee videos hieronder:
Botha het gesê enige konstruksie binne die vloedlyn om die walle te beveilig sal moontlik 'n omgewingsimpakstudie vereis. "Advies word tans ingewin of dit parallel kan loop met volgende boekjaar (2019/20) se meesterbeplanning." Volgens Botha gaan die hoop grond van die opgraderings by Missionstraat, gebruik word om 'n afsnywal vir dreinering te vorm om die stormwater afloop te beheer. "Hierdie toekomstige wal sal nie uitsig belemmer nie," het hy gesê.
Die woordvoerder van die departement van waterwese, Sputnik Ratau, het by navraag gesê dat hy die saak ondersoek. Hy het beloof om so gou moontlik kommentaar te verskaf.
Die Molenrivier is dig begroei en verskaf glo goeie skuilplek vir kriminele. 'n Draad is gespan tussen die Coca Cola-onderneming (agter regs) en die rivier. Die huise wat grens aan die rivier, loop glo deur onder inbrake.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'