Die program fokus op die kind, die hantering van groepsdruk, dwelm- en alkoholmisbruik en die keuses wat jong kinders maak wat die uitkoms van hul lewe bepaal.
Trout sê dit is verskriklik om te sien hoe daar in die samelewing vandag sogenaamde vriende en negatiewe kragte jong kinders van ‘n mooi lewe beroof. Hulle glo hulle kan ‘n groter impak maak deur die program gedurende lewensoriënte-ringsklasse by skole aan te bied en sodoende kinders se lewens transformeer.
"God is die Outeur van jou lewe en haat dit om te sien hoe awesome hoofstukke van jou lewe gesteel word deur alkohol en dwelms," sê hy. Freddy en Wayne is albei gerehabiliteerde dwelmverslaafdes wat voltyds werk om hul boodskap oor dwelm- en alkoholmisbruik aan leerders in die Suid-Kaap oor te dra.
‘n Inligtingsboekie en beeldmateriaal oor dwelm- en alkoholmisbruik sluit in hoe ‘n "simpel keuse" soos om stokkies te draai, skelm te rook of drink aanleiding gee tot losbandige gedrag deur vroeg seksueel aktief te wees, onbeskermde seks te hê met gevolglike tienerswangerskappe en HIV/Vigs, verslawing en selfs ‘n vroeë dood. Die boekie bevat talle foto’s en bespreek misbruik en verslawing asook die gevolge daarvan breedvoerig. Die verhale van doodgewone mense wat in die greep van dwelms en alkoholmisbruik vasgevang was, word ook vertel en DVD’s word vir die kinders gewys waar voorheen verslaafdes hul storie deel.
"Kinders moet besef dat hulle verantwoordelik is vir die keuses wat hulle maak, niemand anders nie. Deur die program wil ons hulle graag in die regte rigting help, hulle weer te laat droom oor hul toekoms en weet dat die inligting wat ons hulle gee, regtig ‘n impak op hulle sal maak en hulle sal verhoed om ooit enige dwelms te aanvaar." Freddie sê baie jong kinders begin by stokkiesdraai, rook en drink om hul vriende te vrede te stel en besef nie dat dit juis dié "vriende" is wat hul lewens verwoes nie. Hulle moet ook weet dat dwelms alles in jou lewe sal verwoes, jou verhoudings, jou familie en natuurlik, jouself. Materiaal word by die skool gelos sodat die onderwysers dit weer kan gebruik in lesse met toekomstige leerders.
Help PASA om ‘n verskil te maak
PASA is ‘n geregistreerde nie-winsgewende organisasie en is altyd op soek na nuwe borge of donasies, veral vir die inligtingsboekies wat hulle by skole versprei. "Dit is PASA se grootste droom om ons skole dwelmvry te maak," sê Freddy en Wayne. "Enige hulp sal opreg waardeer word." Skole word genooi om hulle te skakel om te reël vir die aanbieding van praatjies of die lewensoriënteringsprogram. Enige persone of besighede wat PASA kan bystaan om ‘n kantoor in die middedorp in te rig, is ook welkom om Freddy te kontak.
"Ons wil graag ‘n kantoor hê waar die publiek kan kom inloer vir raad of inligting. Onthou ons is hier om die stad te bedien met ons kennis en ondervinding. Ons leef in swaar ekonomiese tye, maar dit is reeds in moeilike tye dat ons, ons saad moet saai en op God vertrou vir die oes.
"Enige rekenaars, drukkers, meubels en ander kantoortoebehore sal ook waardeer word. Persone wat voorheen verslaaf was, kan ons ook kontak om opgelei te word as beraders (life coach) om aanbiedings te doen by skole," sê Freddy.
Om betrokke te raak by PASA en die werk wat hulle doen, skakel vir Freddy Trout by 071 090 4450.

Freddie Trout en Wayne Windvoël saam met die Graad 9B-klas van Kretzenshoop Primêr. Foto’s: Lizette da Silva