Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die spesiale verhouding tussen jong ruiters van die Pacaltsdorp-perdryklub en hul geliefde perde was 'n riem onder die hart vir die organiseerders en beoordelaars van die klub se Kersskou en prysuitdeling.
Die geleentheid is verlede Saterdag by die Pacaltsdorp-sportterrein gehou en het heelwat se belangstelling geprikkel. Toertjies deur waaghalse van die plaaslike Film Equus / Cossacks Riding School was een van die dag se hoogtepunte.
Sowat 40 perde en ruiters het deelgeneem. Kalma Hayes, die organiseerder, was verheug oor die opkoms. Ruiters is beloon vir hul uitnemendheid en die kondisie van hul perde. Hayes help deurgaans om die klublede se vernuf te verbeter, terwyl die klub se voorsitter, Paulen Alaart, die ruiters se entoesiasme aanvuur.
"Die talent wat hier ontluik word, is ongelooflik," het Hayes gesê. "Die klub word vir die afgelope jaar formeel bedryf en wil jong perdeliefhebbers se vaardighede help ontwikkel sodat hulle met ander klubs kan meeding. Perde is wonderlike diere, ons noem hulle landdolfyne. Hulle gee onvoorwaardelike liefde en hierdie kinders vind baat daarby."
Kyk 'n video hieronder.
Borge van die klub sluit in: Olympia Equestrian Estate, Cape Grain, Buccleugh Contractors en Equilibrate.
Curwin da Silva (9) en Zian da Silva (4, ruiter) met klein Poppie, 'n Shetland-ponie.
Uitblinkers van die jaar:
- Beste ruiters: Paulen Alaart met Princess en Anvir Michaels met Vonk.
- Perd in die beste kondisie: Sayid Sharara met Prince.
- Uithouvermoë en entoesiasme: Curtley da Silva met Survivor.
Skoukampioene
- Groot kampioenperd en ruiter: Jimmy Cupido met Trixie.
- Reserwe kampioenperd en ruiter: Shivandré Koranna met Blessing.
- Spesiale toekenning vir die skou: Eljero April en Ashley Whites.
Shivandré Koranna met sy hings Ponto, wat 'n prys losgeslaan het tydens die kompetisie. Foto's: Michelle Pienaar
Kalma Hayes (links), die organiseerder, saam met die beoordelaars Alex Boorman en Lauren Giles.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'