Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Pacaltsdorpers moes baie geduld aan die dag lê tydens 'n imbizo wat verlede Vrydagaand deur die polisie en verskeie staatsdepartemente vir die gemeenskap gereël is.
Die geleentheid het by New Dawn Park Primêr plaasgevind, op die sesde dag van Kinderbeskermingsweek (28 Mei tot 4 Junie).
Inwoners moes hul vrae stewig vashou terwyl altesaam agt sprekers voor hulle die vloer neem. Die vrae en antwoordsessie was heelwat later op die agenda. Die funksie sou 17:00 begin, maar het eers 17:50 afgeskop.
Teen 19:28 is die vloer vir die gemeenskap gegee, waartydens twintig vrae toegelaat is. Beurtkrag was op hul hakke, so dinge moes roer.
Die eerste spreker, John Bruiners, het homself voorgestel as 'n inwoner van Rosedale (deel van Pacaltsdorp), asook die provinsiale voorsitter van die Suid-Afrikaanse Kaapse korps militêre veterane (CCMVA). "Ons is ook daar om te help met misdaadbekamping," het Bruiners gesê.
"Ons hoor kapt. Kama is acting, maar niemand het vir ons gesê wie nou aan die stuur is nie. Wie is ons leier?" Adjunk-provinsiale kommissaris-generaal MM Manci het geantwoord dat die pos geadverteer sal word: "Op die oomblik het ons die waarnemende stasiebevelvoerder kapt. Kama." Manci het gesê een van die redes vir die imbizo was om Kama aan die gemeenskap voor te stel.
Adjunk-provinsiale kommissarisgeneraal MM Manci aan die woord. Foto: Michelle Pienaar
Robert Phillips was tweede aan die beurt, met 'n vraag namens sy suster, oor die moord van haar dogter, Charmaine Phillips in 2015, 'n dag voor Kersfees. "Niemand het nog voorgekom nie, niemand weet wat gaan aan nie en ons word nie ingelig oor moontlike hofsake nie," het Phillips gesê.
"My suster het twee strokes gehad en ons, die familie, wil weet wat die polisie doen oor daai saak. Ons is in die donkerte, ons kan nie closure kry nie." Tuinroete-distrikskommissaris generaal-majoor KN Modishana het geantwoord dat die speurder die saaknommer het en spoedig aan die familie terugvoer sal gee.
VIDEO: Polisie hou Imbizo by New Dawn Park
Die derde spreker vanuit die gemeenskap het 'n ontstellende toneel geskets waar 'n tienermeisie na 'n verkragting eers deur 'n vrouepolisiebeampte ondervra is, en later deur 'n manlike beampte, wat glo nie die nodige empatie en sensitiwiteit betoon het nie.
Die saak het glo nie voortgegaan nie, omdat sy op haar senuwees was en sekere dinge nie meer so mooi kon onthou nie.
Die manier waarop die tweede ondervraging plaasgevind het, het die familie en die slagoffer ontstel. Daar is onderneem om dieper na die saak te kyk.
Ander klagtes
André Botes, Ludi Venter en Rudi Hasset van Hansmoeskraal het gesê die veiligheid van die Hansmoeskraalpad is vir hulle 'n kwelling. "Mense gooi karre om op die pad, en dit beïnvloed ook die polisie se reaksietyd," het Botes gesê. "Vissermanne stap ook in pikdonker op die pad - 'n mens kan hulle glad nie sien nie."
Die toekoms van die kinders van Pacaltsdorp is Fransina Abrahams se grootste kommer: "Wat gaan van hulle word? Bel jy die polisie, dan is daar nie vans nie."
FOTOGALERY: Polisie Imbizo by New Dawn Park Primêr
Raymond Philander wil graag weet wat die polisie se plan is om skole te help met bendeverwante probleme en dwelms, wat al hoe meer kop uitsteek by skoolterreine.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’