GEORGE NUUS - Daar het so baie goed deur my kop gegaan. Ek het in my geestesoog gesien hoe skiet hulle my ouers en jonger broer, en terselfdertyd besef ek, ek moet iets doen toe ek die gun teen my pa se kop sien." Só vertel Robin Burgess (29) van Pacaltsdorp van die kapingspoging waarin die gesin Sondagmiddag op die R300 in Kaapstad betrokke was. Hulle was verlede week op pad terug huis toe na sy ouma, aan sy pa se kant, se begrafnis in Kaap-stad.
Robin se ouers en sy broer (11) het in hul gesinsmotor gery en hy met 'n vriend se motor wat hy na George moes bring. Die vriend se motor het in 'n hoë-risiko area onklaar geraak en albei motors het afgetrek. Terwyl hulle toue gesoek het om die gebreekte motor mee te sleep, het drie mans hulle genader, een met 'n vuurwapen en die ander 'n kapmes.
"Ek het hulle eerste gesien. Die een met die gun was by my pa en die ander twee by my ma. Hulle het selfone en hul beursies geëis."
Hy vertel dat verskeie scenario's binne sekondes deur sy kop geflits het. Die kapers het vir hom gewys hy moet by die gebreekte motor bly, hy vermoed hulle het aangeneem hy is van die Kaap weens die Kaapse registrasie-nommer. Sy ouers se motor het 'n CAW-registrasie.
Robin sê hy het onmiddellik op hulle afgestorm toe een van die kapers sy ma uit die motor probeer ruk en dit lyk of hy na haar met die kapmes wil kap. Die ander kaper het die vuurwapen op Robin gerig en die sneller getrek het.
"Hy het dit 'n paar keer getrek, maar die gun wou nie afgaan nie. Ek het die kaper met die kapmes getakel en hom met 'n skroewedraaier wat in my sak was aangeval. Die ander twee het weggehardloop en ek het net begin steek. Ek weet nie hoeveel keer nie, maar sy tjommie het teruggekom en hom oor die pad gehelp.
Robin Burgess van Pacaltsdorp.
Hy sê verskeie motors het verby hulle gery, maar uiteindelik het 'n Uber-voertuig en sy passasier by hulle gestop om te help.
Hulle wag nog op 'n saaknommer, want sê hy, hulle is tussen polisiestasies van bakboord na stuurboord gestuur oor watter stasie die voorval moet hanteer.
"Ek weet nog nie hoekom die ding met ons gebeur het nie, maar weet ek is dankbaar ons is almal veilig. Almal is nog baie skrikkerig en kwaad oor dit wat gebeur het. As ons, ons oë toemaak speel die voorval weer voor ons af. Dan is daar die wat-as gevoel wat oor en oor in jou kop maal. Maar ons sal hierdeur kom. Ons besef ook dat so iets enige plek kan gebeur en dat 'n mens altyd paraat moet wees."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'