GEORGE NUUS - Paaseiers het groot glimlagte gebring op die kindergesigte by Bethesda Kinder-en Jeugsentrum toe spelers van die SWD Arende en personeel van SWD-rugby dit aan hulle uitgedeel het kort voor die begin van die Paasnaweek. Die geleentheid het op 28 Maart plaasgevind.
Keano Hendricks, 'n haker in die span, het gesê dit was 'n inisiatief van Martin de Vos, die spanbestuurder. Daar is besluit om in die gees van Paasfees, paaseiers uit te deel sodat hierdie kinders ook die geleentheid kon vier.
"Dis iets om terug te gee. In Paasfees vier ons wat Jesus vir ons gegee het. Dis iets wat ons kan teruggee vir die gemeenskap en ons doen dit graag. Ons wil baie betrokke wees in die gemeenskap," het hy gesê.
Hy het sy dank uitgespreek teenoor almal wat dit moontlik gemaak het.
Suster Shirly Louw van Bethesda het gesê dis 'n riem onder die hart dat daar nog mense is wat dink aan die wat minder het.
Die kinders wat die Paasnaweek daar is, is die wie se familie nie so baie kom kuier nie. Van die kinders het omtrent niemand van hul familie wat aandag aan hulle gee nie. "Dit beteken baie vir dié kinders dat hulle ook deel kon wees van Paasfees."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’