Die tragedie het hom Dinsdagoggend op Jonkersberg afgespeel. "Dis baie hartseer. Hy werk seker al sewe jaar vir my en nou het ek een van my beste werkers verloor," sê mnr. Pierre van der Merwe van Coastal Home Improvements.
By die toneel sit of staan groepies plaasmense op die wal, ‘n ent weg van waar die polisievoertuie spore deur ‘n groen veld moes trap en om die lammers moes mik om tot by die dam se watervlak uit te kom. Die dam is baie leeg.
Hansie was saam met ‘n vriend skaars twee uur tevore nog besig om deur die water te loop en vis met ‘n gaffel te probeer raaksteek. "Toe ons kyk toe staan net sy stok in die water en hy is nêrens te sien nie," vertel John James grootoog. Hy was aan die anderkant van die dam besig om vis te vang.
Cornelia Riddles knik haar kop en bevestig: "Hansie was baie diep in tot net onder sy ken - ek het hom gesien. Hy het omgedraai en begin uitstap, maar toe skielik ondergegaan en nie weer opgekom nie."
Haar dogter, Irene, het toe nader gehardloop en in die water gegaan waar hulle Hansie laas gesien het, maar bang geraak toe dit te diep word. "Ons het opgeskree huis toe hulle moet die polieste bel," verduidelik ‘n asvaal Cornelia.
Bo teen die heuwel staan Hansie se vrolike huisie met die netjiese tuin en geel mure in die winterson. Eva Thys skud net haar kop. "Ek kan nie ‘n weduwee wees nie."
Sy trap versigtig oor die kuikens wat in die kombuis rondmaal om haar troufoto’s te soek, haar jongste van ses maande op die heup. Van die huis af kan hulle die dam duidelik sien. "Ek kan nie glo dit het gebeur nie," sê sy en kyk weer ‘n slag na die dam. Vroeër het sy onder by die draad met bure gestaan en kyk hoe duikers in die bruin water rond voel-voel.
"Daar is ‘n gat in daai dam. Ons sal hom by Groot-Brak gaan bêre."
Die duikeenheid van Mosselbaai het die liggaam herwin.
Artikel en foto's: Anoeschka von Meck
.jpg)
Mnr. Samson Manewil met drie van sy kleindogters wat langs die dam staan en kyk het hoe hul pa se liggaam uit die water gevis word. Marisa (17) met Samantha (4) op haar heup en Esmeralda (6).