Met hierdie woorde in sy agterkop en herinneringe aan Marlené, wat elke tree saam met hom is, stap Marlené se pa, Joppie Fourie (50) sedert Saterdag, 6 Augustus met ‘n spesiaal vervaardigde hospitaalbed ongeveer 5100 km deur Suid-Afrika om geld in te samel vir kankernavorsing en behandeling.
Marlené is op 5 Julie 2009 dood aan ‘n seldsame ongeneesbare kanker, bekend as Ewing Sarcoma.
Fourie se fondsinsamelingsprojek staan bekend as Ten Million Steps for Cancer. Die roete wat hy stap, het op sy tuisdorp Oudtshoorn begin en sal hom deur 113 dorpe en stede in Suid-Afrika neem. As alles volgens plan verloop, sal die staptog sowat ‘n jaar duur.
Fourie het Sondagaand in George aangekom en vir drie dae gedeel in motiveringstoesprake en meer
fondsinsamelingsprojekte voor hy vanoggend (Donderdag, 11 Augustus) in die rigting van Kaapstad verder gestap het.
"Daar het baie gedagtes, positief én negatief, deur my kop gegaan in die beplanningsproses van Ten Million Steps for Cancer, maar ek het die hele tyd gewéét ek moet dit doen. Noudat ek my eerste besoekpunt, George, bereik het, weet ek ek het die regte besluit geneem," het Fourie in ‘n onderhoud aan die George Herald gesê. Hy het met groot lof gepraat van sy ontvangs in George en gesê dit kan net as motivering dien om die res van die staptog aan te pak. Uitvoerende Burgemeester van George, mnr. Charles Standers, was Maandag met verlof, maar het nie geskroom om tyd af te staan om Fourie by sy kantoor te gaan ontmoet nie.
Uitvoerende Burgemeester van Oudtshoorn, mnr. Gordon April, het ‘n spesiale boodskap saam met Fourie gestuur, wat hy so ver moontlik aan elke dorp en stad se burgemeester moet oorhandig, waar hy aandoen.
Die boodskap lees as volg: "As uitvoerende burgemeester is dit ‘n besonderse voorreg om ons eer te betoon aan Joppie. Joppie het ‘n plek diep in die hart van elke inwoner van ons dorp kom inneem en ervaar ons met sy opoffering en liefde weer hoop vir ons toekoms.
"Joppie is ‘n geskenk aan ons as medemens en vertrou ons met God se gebede en seëninge dat hy altyd sal wandel met goeie gesondheid, liefde, hoop en vreugde in sy stap om mense bewus te maak van die voorkoming van kanker.
"Mag u hom ook ervaar en ontvang met ‘n goeie gees en vertrou ons dat hy dieselfde lieflike atmosfeer in u dorp sal betoon."
Fourie het aan die George Herald gesê Marlené was tot haar einde ‘n baie positiewe en inspirerende mens, wat dan ook bygedra het tot sy besluit om die moeilike, alleen staptog aan te pak.
Donasies vir Fourie se projek kan gemaak word by Absa Bank, rekeningnommer 926 455 1428, Ten Million Steps for Cancer Trust, besigheidspaarrekening. Die webtuiste is www.tenmillionstepsforcancer.org.za en navrae kan gerig word aan 084 298 9704.

Wyle Marlené Fourie.
ARTIKEL: CHRISTO VERMAAK, GEORGE HERALD-JOERNALIS.