Update
GEORGE NUUS - Ouers van 'n gr. 2-klas by New Dawn Park Primêr is keelvol vir 'n onderwyser se gedurige afwesigheid. Hulle sê hul kinders se skoolwerk ly daaronder. Die ouers het Dinsdagoggend by die skool opgedaag met plakkate wat hul misnoë uitspreek.
Ruth Miller, die waarnemende hoof, het gesê sy kan nie betrokke raak nie, maar het wel die plaaslike distrikskantoor ingelig. Ouers het hul wyksraadslid, Theresa Fortuin, saamgebring om hulle te verteenwoordig.
Die voorsitter en ondervoorsitter van die skool se beheerliggaam was ook daar.
Die ouers beweer dat die onderwyser net lank genoeg wegbly om binne die wet te bly, sowat 10 dae op 'n slag, en dus nie afgedank kan word nie. Blykbaar kan onderwysers vir 'n periode van 14 werksdae afwesig wees, en moet dan terugkeer werk toe.
Nadat Koos Eksteen, die kringbestuurder vir die area, in gesprek was met die departement en die skool se beheerliggaam, het hy die ouers ingelig dat hulle op 'n tydelike oplossing besluit het.
Theresa Fortuin, 'n plaaslike wyskraadlid, het saam met die ouers hul pleidooi na die skool gebring.
Daar sou reeds Woensdag 'n ander onderwyser wees om die klas oor te neem. Hy sê die departement is besig om die saak te ondersoek. Daar is gesê die onderwyser het by tye gesê dat sy siek was, maar is in daardie periode deur verskeie ouers in drinkplekke gesien.
Volgens Eksteen sal hy in kontak bly met Fortuin om hulle op hoogte te hou van die saak. Daar is gesê dat die departement se arbeidsafdeling geraadpleeg is en dat stappe teen die betrokke onderwyser gedoen sal word.
INLAS: Plakkate buite New Dawn Park Primêr na Dinsdagoggend se demonstrasie oor die afwesigheid van 'n onderwyser.
Lees 'n vorige artikel: Ouers ongelukkig oor onderwyser
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'