GEORGE NUUS - Sy bestuur nog haar eie kar. Sy kan e-posse stuur en gesels met haar kinders, kleinkinders en agterkleinkinders, wat oor die wêreld heen versprei is, op Skype.
Op 95 is tannie Beattie Hicks nog springlewedig, perdfris en gesond.
Sy is in 1923 op Oudtshoorn gebore en het haar skoolloopbaan daar voltooi. Sy het twee dogters, vier kleinkinders en sewe agterkleinkinders. Haar gunsteling blom is orgideë, sy is mal oor kerrie, rys en skaapafval, haar geliefkoosde plek is Heroldsbaai en sy hou van die lente.
Maar tannie Beattie Hicks het 'n baie spesiale liefdesverhaal. Een met 'n sprokieseinde.
Sy vertel dat die liefde van haar lewe, Ivan Hicks, waarmee sy ses jaar lank in 'n verhouding was, in 1941 gedurende die tweede wêreldoorlog opgeroep is. "Hy was 'n vlieënier vir die Koninklike lugmag. Hy is teruggeroep na Engeland tydens die oorlog en ons het ons verhouding beëindig," sê sy.
Ivan het na die oorlog na Beattie kom soek, maar sy was reeds getroud en die eersteling was op pad. Hy het later van tyd ook getrou.
Op 4 Augustus 2007, 63 jaar ná hulle mekaar laas gesien het, het Beattie die verrassing van haar lewe gekry toe Ivan haar in George kom soek het. Kort daarna het Ivan Beattie se dogter, Antoinette Holtzhausen, se toestemming gevra om met haar ma te trou. "I lost her once, I don't want to lose her again," was sy woorde aan Holtzhausen.
Almal het ingestem en kort voor lank het die bruilofvieringe begin.
"Ons was vir amper agt jaar baie gelukkig getroud voor ek hom aan die dood moes afstaan. Ons tyd saam was die gelukkigste tyd van my lewe," vertel sy.
Beattie Hicks en haar oorlogsliefde, Ivan, op hul troudag.
Sy sê die hoogtepunt van haar jaar tot dusver haar 95ste verjaarsdagpartytjie was. Vriende en familie het verlede Saterdag by Genevafontein-aftreeoord bymekaargekom om dié mylpaalverjaarsdag te vier.
'n Sprankelende Beattie Hicks en haar dogter, Antoinette Holtzhausen, Saterdagoggend tydens die viering van Hicks se 95ste verjaarsdag by die Genevafontein-aftreeoord.
"Daar was so baie vriende, familie, geskenke en blomme om my. Ek sal die dag nooit vergeet nie. Ek wil ook dankie sê aan my dogter, Antoinette, en haar man, Louis, wat my altyd saam op vakansie geneem het. Ons was rondom die wêreld, selfs tot in Alaska. Dankie vir julle liefde en verdraagsaamheid met die ou vrou!"
Beattie Hicks (middel) en familielede wat die oggend saam met haar geniet het. Van links is: Anita Botha, Bruce en Marga Coetsee, Rika Papenfus, Hicks, Antoinette Holtzhausen (dogter) Ronell Gous en Caitlin Vienings.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'