De Swardt junior kuier vir 'n wyle hier by sy ouers, voordat hy na Johannesburg vertrek. Sy plan is om 'n draaiboek vir 'n film te skryf by die Sober and Lonely Institute of Contemporary Art in Johannesburg.
'n Handvol foto's deur Alice Mertens van jong paartjies langs die Eersterivier in Stellenbosch, gepubliseer in 1966, dien as sy inspirasie.
"My tyd in Londen het my die geleentheid gegun om my werk binne in 'n internasionale konteks te plaas – beide in terme van ander kunstenaars waarmee ek identifiseer, asook nuwe teoretiese raamwerke om wat ek doen te beskryf," het Abri aan die George Herald gesê.
"Baie van my leerproses by Goldsmiths is te danke aan my tutor, Mark Leckey, wat in 2008 die Turner Prys gewen het."
Volgens Abri het Leckey hom geleer dat 'n suksesvolle kunswerk gevoelens van die magiese, jaloesie en skaamte opwek. "Dit is veral die idee dat as jy skaam voel oor iets wat jy gemaak het, met ander woorde dat jy iets van jouself en jou begeerte ontbloot, en dus iets op die spel plaas, wat met my geresoneer het," het hy gesê. 'n Groot deel van Abri se "maakproses" bestaan uit verskillende vorme van collage - veral die versameling van bestaande beelde, soos foto's.
"Somtyds vind ek hulle op die internet, of in tweedehandse boekwinkels, of in 'n argief," het hy gesê. "In hierdie surfing proses is daar dikwels iets wat amper soos 'n glitch my browsing onderbreek."
Twee sulke oomblikke het hulself gemanifesteer in Mertens se foto's, en vier poskaarte oor bloedskenking (gedruk in Pretoria in 1986). Hierdie "beelde" dien as die inspirasie van twee nuwe konsepte waaraan Abri werk. Om van sy werk te besigtig, besoek sy webblad by www.abrideswardt.com.

Abri in 'n Martin Honert kunswerk in die Moscow Museum of Modern Art, tydens sy besoek aan Rusland.
ARTIKEL: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'