GEORGE NUUS - Die DA maak gereed vir 'n tussenverkiesing in wyk 18, wat Denverpark, Loeriepark, Tweerivieren en 'n gedeelte van Denneoord en George-Oos insluit.
Die tussenverkiesing volg na die bedanking van die voormalige DA-wyksraadslid Gert Niehaus, en sal op 25 April plaasvind.
DA-streeksvoorsitter Jaco Londt is opgewonde oor hul kandidaat, 'n oud-rektor van Paul Roos Gimnasium, Jannie van der Westhuizen.
Die Onafhanklike Verkiesingskomissie (OVK) het op hierdie stadium nog nie kandidaat-aansoeke van enige party vir die tussenverkiesing ontvang nie.
Courtney Sampson, die OVK se provinsiale verkiesingsbeampte, het bevestig dat politieke partye eers vanaf 23 Maart tot 3 April hul kandidate by die OVK kan registreer.
Kiesers kan eerskomende naweek (Saterdag 3 Maart en Sondag 4 Maart) by enige van die twee stemlokale registeer: Die Moth Hall in Rijk Tulbachstraat, Loeriepark, en die Denneoord NG Kerk by 11 Wallisstraat in Denneoord.
Enige kieser wat nuut in die wyk ingetrek het, of nog nie hul addresse by die OVK geverifieer het nie, moet tussen 08:00 en 17:00 aanmeld.
'n Groen identifikasiedokument, nuwe ID-slimkaart of 'n tydelike identifikasiesertifikaat word benodig.
"Ons is ongelooflik opgewonde oor die kaliber kandidaat wat ons vir hierdie tussenverkiesing gekry het," het Londt gesê.
"Met sy jare lange ervaring in verskeie organisasies sal hy 'n reuse aanwins vir die party en raad wees. Ons was geseënd met 'n paar baie sterk aansoeke, dit was 'n moeilike besluit, maar ons is gemaklik met ons eindkeuse."
Van der Westhuizen verwys na homself as 'n "Karooman van De Rust".
Hy het sy onderwysloopbaan by Hoërskool Outeniqua in 1982 begin, waarna hy bevorder is na departementshoof van Hoërskool Punt in Mosselbaai.
"Ek was skoolhoof van drie verskillende skole, waaronder Hoërskool Kirkwood, Hoër Landbouskool Boland en vir die laaste tien jaar die rektor van Paul Roos Gimnasium op Stellenbosch," het hy gesê.
"Na my aftrede verlede jaar het ek en my vrou ons kom vestig op George." Van der Westhuizen doen nog konsultasiewerk in die onderwys en is betrokke by mentorskapprogramme vir skoolhoofde.
Jannie van der Westhuizen
"Ek het nou tyd en die geleentheid praat met my," het hy gesê na aanleiding van 'n vraag hoekom hy graag die politiek wil betree. "Ek is opgewonde en ek dink ek kan 'n bydrae lewer.
"My ma woon in Oudtshoorn en die Suid-Kaap is maar lewenslank nog in my bloed." Van der Westhuizen is lief vir die natuur en buitelewe.
Hy sal eerskomende naweek, tydens die registrasienaweek, die stemlokale besoek om kiesers te ontmoet.
n Kiesers kan op 25 April by enige van die twee stemlokale (Moth Hall of Denneoord NG Kerk) van 07:00 tot 21:00 vir hul wykskandidaat stem.
Diegene wat nie daardie dag beskikbaar is nie, kan aansoek doen vir 'n spesiale stem. Die aansoeke open eers later in die veldtog.
n Saterdag 10 Maart en Sondag 11 Maart is nasionaal 'n naweek waartydens keisers hul adresse kan verifieer met die oog op die nasionale verkiesing volgende jaar.
Dit geld dus vir al 27 wyke regoor George.
* The DA is preparing for a by-election in Ward 18, which includes Denver Park, Loerie Park, Tweerivieren and a part of Denneoord and George East. This follows the resignation of former DA Ward Councilor Gert Niehaus, and will take place on 25 April.
DA Regional Chairman, Jaco Londt, is excited about their candidate, a former rector of Paul Roos Gymnasium, Jannie van der Westhuizen. At this stage, the IEC has not yet received candidate applications from parties for the by-election, as candidate registration only starts on 23 March.
Voters can register at any of the two polling stations on Saturday 3 March and Sunday 4 March: The Moth Hall in Rijk Tulbach Street, Loeriepark, and the Denneoord NG Church at 11 Wallis Street in Denneoord.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'