GEORGE NUUS - Dit was Dinsdag 7 Desember 'n blye weersiens toe 'n paar oud-Kwaggas in George bymekaargekom het.
Vanjaar is dit 60 jaar gelede dat wyle GJB Volschenk, legendariese skoolhoof van Hoërskool Outeniqua (Kwaggas), afgetree het. Hy het diep spore by die skool getrap en 'n groot invloed op die lewens van talle mense gehad. Die huidige skoolsaal is onder meer na hom vernoem.
Oud-Kwaggas uit sy jare het saam ontbyt geniet en die skoollied saam gesing. Daar is heerlik gekuier en die goeie ou dae is in herinnering geroep. Staaltjies is ook uitgeruil.
Johan Botha, (matriek 1959) die organiseerder van die geleentheid, het gesê dit is deur 28 oudleerlinge bygewoon.
Gewoonlik kom hulle elke tweede jaar bymekaar. Vanjaar was 'n besonderse geleentheid omdat dit 60 jaar gelede was dat Volschenk afgetree het.
"Ons onthou hom as Vollie. Hy was 'n ware heer in alle opsigte. Hy het sterk klem gelê op lewenswaardes.
"Mnr. Volschenk was vir ons almal 'n rolmodel."
Die oudste twee oud-Kwaggas Desmond Clur (1952) en dr. Matthys Strydom (1952) saam met Chris Hattingh, senior adjunkhoof van die Hoërskool Outeniqua (Kwaggas).
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'