GEORGE NUUS - Lede van die St. Mary's Katolieke Kerk se blaasorkes het op Dinsdag 15 November 'n onaangename verrassing gekry toe hulle hul oefenkamer oopsluit en van hul instrumente oopgemaak en verstrooi oor die vloer kry.
Van die instrumente was ook uitmekaar-gehaal en onderdele is verwyder.
Volgens 'n lidmaat van die kerk, Levienia Botha, wie se pa, Henry, in die orkes speel, is die slot van die oefenkamer 'n tyd gelede verander en die orkeslede het nie soos altyd toegang gehad nie.
Hulle het uiteindelik op 9 November, ná 'n groot gesukkel, 'n sleutel van vader Ashley Orgill, die kerkleier, gekry en Dinsdag, die gebruiklike dag van die week waarop hulle oefen, daarheen gegaan, net om op die deurmekaar kamer af te kom.
'n Veertjie van een van die instrumente was weg en die orkes moes later uitvind dat dit gebruik is in die tuba wat deel is van die blaasorkes van St. Mary's Primêre Skool op die bekendstellingsaand van die musiekakademie. Die tuba was ook weg, maar is later "op misterieuse wyse" weer teruggeplaas, het Botha gesê.
"Terwyl St. Mary's Skool met trots 'n musiekakademie geopen het, was hierdie voorval vir die kerk se orkes 'n hartseerstorie. Die orkes bestaan al vir meer as 60 jaar en dit is hoe oud van dié instrumente is. Oor die jare heen het lede ook uit hul eie sak vir hulself 'n instrument aangekoop.
Die orkes was veronderstel om op Sondag 20 November tydens die fees van Christus Koning te speel, die afsluiting van die kerkjaar, maar hulle kon nie."
Die instrumente het vir van die lede groot sentimentele waarde. Volgens Botha het haar pa sy instrument op 15-jarige ouderdom gekry.
Skool leen veertjie as 'laaste uitweg'
Laurentius Muller, hoof van St. Mary's Primêre Skool, het by navraag gesê die musiekakademie het as 'n laaste uitweg die kerk genader om 'n veertjie vir hul blaasorkes se tuba te leen. Die veertjie van die skool se tuba het verlore geraak terwyl dit skoongemaak is.
"Staccato het ons ingelig dat die veertjies nie in George beskikbaar is nie en ons sou een van die Kaap af moes bestel. Dit sou nie betyds hier aankom vir ons bekendstellingsaand nie. Die instrumente behoort aan die kerk en die priester het vir ons persoonlik toestemming gegee."
Volgens Muller moes die kerk se instrumente oopgemaak word om te kyk watter veertjie in die tuba sou pas. Die kerk se tuba is ook saamgeneem na die skool toe. Alles is veilig in die stoorkamer bewaar waar die skool se instrumente gehou word.
'Orkes verantwoordelik vir instrumente'
'n Ontevrede Leon Rothman, die kerk-orkes se voorsitter, sê die instrumente is aan die orkeslede toevertrou en is hulle verantwoordelikheid. "As daar skade kom, moet ons pa staan. Tog is ons heeltemal oorgesien. Dit is deur ons sorg dat die instrumente ná 60 jaar nog in so 'n goeie toestand is. Die minste wat gedoen kon word, is om my te kontak. Ek sou graag gehelp het. Die kerk het my kontaknommer. Om ons instrumente in so 'n toestand aan te tref, was 'n groot skok."
Volgens Rothman moes iemand die tuba verlede Woensdag (16 November) terug-geplaas het, want Donderdagoggend toe die polisie se vingerafdrukafdeling daar was, was hy terug op sy plek. "Die veertjie moes ons self by die skool gaan haal het."
Orgill wou nie kommentaar lewer nie, maar het gesê dis 'n interne aangeleentheid wat handuit geruk het. Hy het ook op 'n vraag bevestig dat die instrumente die eiendom van die kerk is en dat hy dus in beheer is daarvan.
Die drukknoppies van die euphonium is almal uitgehaal. Dit is hoe die orkeslede dit gevind het.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'