Update
GEORGE NUUS - Die twee jong mans, Kheegan da Silva (19) van Pacaltsdorp en Lachlan Japhta (29) van Gauteng, wat Saterdagoggend in die ongeluk in Yorkstraat naby die George-begraafplaas dood is, word die komende naweek ter ruste gelê.
‘n Begrafnisdiens vir Kheegan word op 3 Februarie in George gehou en Japhta sal in Gauteng begrawe word.
Die twee oorledenes was saam met die 26-jarige Enrique da Silva (Kheegan se oom en Japhta se neef) en Enrique se vriendin, Shavon Hindley (24), by 'n familielid in die middedorp.
Die ongeluk het in die vroeë oggendure plaasgevind toe die vier op pad huis toe was na Pacaltsdorp. Japhta was hier met vakansie.
Shavon Hindley is met ernstige hoofbeserings in George-hospitaal opgeneem.
Die hospitaal se woordvoerder, Bianca Carls, het bevestig dat sy vir verdere behandeling na die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad oorgeplaas is.
Enrique da Silva is later verlede Saterdagmiddag uit George-hospitaal ontslaan.
Volgens die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, was die motor vanuit die dorp in die rigting van Pacaltsdorp onderweg toe die ongeluk omstreeks 04:30 plaasgevind het.
Die bestuurder het na bewering beheer oor die voertuig verloor waarna dit gerol het.
"Die motor het in die rigting van die begraafplaas beweeg en op sy dak te lande gekom. Van die insittendes het uit die motor geval.
"Die oorsaak van die ongeluk is onbekend, maar vorm deel van die ondersoek," het Pojie gesê.
George-polisie ondersoek 'n saak van strafbare manslag.
Lachlan Japhta (29).
Kheegan da Silva se ma, Dominique Louis, het in 'n roerende boodskap op Facebook aan haar seun gesê, haar hart het in 'n miljoen stukke gebreek die dag toe God hom kom haal het, omdat hy 'n engel nodig gehad het.
"He came and pick the nicest flower and left my heart on scatters. I want to thank everybody who made such a special impact in Kheegie's life just going through his fb page makes my heart jump with joy."
Kheegan is 'n oudleerder van PW Botha-kollege. Hy het in 2016 gematrikuleer.
Hy word oorleef deur sy ouers, broers en susters, grootouers, ooms en tantes. 'n Huisdiens word Saterdag 3 Februarie om 09:00 by Square Hill-rylaan 50 in Delvillepark gehou.
Die gedenkdiens volg om 11:00 in die Rooms Katolieke Kerk in Rosemoor.
Lees 'n vorige artikel | Ongeluk: 2 dood, 2 beseer
ARTIKEL: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'