GEORGE NUUS - Twee mense is oorlede en nog twee is in George-hospitaal opgeneem na 'n motorongeluk in Yorkstraat naby die George-begraafplaas vroeg vanoggend.
Een van die beseerdes, 'n vrou, is in 'n kritieke toestand met hoofbeserings. Die ander beseerde, 'n man, is in 'n ernstige maar stabiele toestand.
Slegs een voertuig was in die ongeluk betrokke.
Die motor was vanuit die dorp in die rigting van Pacaltsdorp onderweg, omstreeks 04:30, toe die ongeluk plaasgevind het.
Volgens die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapteinMalcolm Pojie, het die bestuurder na bewering beheer oor die voertuig verloor waarna die motor gerol het.
"Die motor het in die rigting van die begraafplaas beweeg en op sy dak te lande gekom. Van die insittendes het uit die motor geval".
George-polisie ondersoek 'n saak van strafbare manslag.
"Die oorsaak van die ongeluk is onbekend, maar dit vorm deel van die ondersoek," het Pojie gesê.
Die oorledenes se name sal eers bekend gemaak word nadat hul familie in kennis gestel is.
ARTIKEL: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'